Nuus 09:00
BULLETIN 27 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pandor hoop die Internasionale Geregshofbeslissing sal die situasie in Gaza verander
# Suid-Afrika se visum-agterstand bedreig beleggings en toerisme-inkomste
# En, krieket: Die Super Giants is bo aan die SA20-punteleer na ‘n bonuspunt-oorwinning oor die Paarl Royals
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Naledi Pandor het die hoop uitgespreek die beslissing deur die Internasionale Geregshof sal tot positiewe verandering in Gaza lei. Pandor het by die Vredespaleis in Den Haag, Nederland, gepraat en ‘n beroep op Israel gedoen om te hou by die bevel van die hof en die nodige stappe te doen om direkte aanhitsing tot volksmoord in sy konflik in Gaza te verhoed en te straf. Pandor beklemtoon as daar nie voldoen word aan die hof se opdrag nie, sal dit ‘n skadelike presedent skep. Sy vra ook ‘n skietstilstand:
# Toerisme-amptenare beklemtoon die noodsaaklikheid dat die prosedures met visums gladder moet verloop om munt te slaan uit Suid-Afrika se toerismepotensiaal. Suid-Afrika, en veral die Wes-Kaap, kan verliese verwag in beleggings- en toerisme-inkomste weens die agterstande met visums by die Departement van Binnelandse Sake. ‘n Bevel vereis dat besoekers met visums van 90-dae teen 29 Februarie moet vertrek tensy dit teen 23 Februarie hernu word. Dit ontlok hewige kritiek. Toerisme-amptenare sê miljoene rand word verkwis weens gebrekkige visum- en immigrasieprosesse en agterstande.
# Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het meer jongmense aangemoedig om te oorweeg om by boerdery aan te sluit. Didiza het die Richmond-plaas naby Hoedspruit in Limpopo besoek vir die bekendstelling van die Moletele Corona-lemmetjieprojek. Die projek, ‘n vennootskap tussen SAB, die Komati-vrugtegroep, en die Moletele-gemeenskap, het onlangs sy eerste vrugte geoes. Didiza het die gemeenskap se aktiewe rol geloof en beklemtoon die geheim om die jeug in boerdery te laat belangstel lê in die sektor se finansiële waarde. Die projek het 12 permanente werksgeleenthede geskep, wat potensiaal toon om die jeug se belangstelling te lok en sienings te hervorm.
# Krieket: Nadat hy gesukkel het om aan die gang te kom in die SA20, het Quinton de Kock gister uiteindelik losgetrek teen Paarl Royals in die Paarl. Die besoekers het ‘n eensydige wedstryd met 57 lopies gewen en sodoende die boonste posisie op die punteleer ingepalm. Nadat die Super Giants eerste gekolf het nadat hulle die loot gewen het, het De Kock en Jon-Jon Smuts gesorg vir 118 lopies om hulle span te help om 190 vir 3 aan te teken. In antwoord het die Royals gesukkel en gereeld paaltjies verloor om te eindig op 133 almal uit in 19 beurte en drie balle.
# En laastens: Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het plaaslike entrepreneurs aangemoedig om aansoek te doen by die regering se versterkingsfonds vir klein, mikro en medium ondernemings. Hy het entrepreneurs van Khayelitsha bedank vir hulle rol om Kaapstad en die provinsie te help om top bestemmings te bly. Winde het tydens ‘n besoek aan ikoniese toeriste-trekpleisters soos Siki’s Coffee en Khaltsha Cycles gesels met entrepreneurs soos Sikelela Dibela, en hulle positiewe uitwerking op die gemeenskap en die ekonomie geloof:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….