Nuus 09:00
BULLETIN 12 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Duitsland sluit ‘n vennootskap teen bek-en-klouseer
# Die Parlement gaan strafregtelike klagte teen Paul O’Sullivan indien
# En Donald Trump beweer die VSA het die oorlog in Iran gewen
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en sy Duitse ampsgenoot, Alois Rainer, het ’n gesamentlike verklaring van voorneme oor landbou-ontwikkeling onderteken. Die doel is om bilaterale samewerking te versterk om bek-en-klouseer te beheer en handel in diereprodukte te bevorder. Vyf fokusareas is uitgewys wat onder die verklaring ingestel moet word. Dit is die deel van kennis, monitering van wild, bevordering van inenting, diagnostiese navorsing en risikobestuur. Steenhuisen sê Suid-Afrika beveg ’n ernstige bek-en-klouseer-uitbreking en hierdie vennootskap bied ’n noodsaaklike lewenslyn van tegniese kundigheid en vernuwing.
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en die sekretaris van die parlement, Xolile George, gaan ‘n strafregtelike klag teen die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan lê. Dit hou verband met sy uitstapppery toe hy twee weke gelede voor die ad hoc-komitee verskyn het. Tydens die verskyning het O’Sullivan parlementslede gesê hy moet ‘n vlug haal en hy het geloop ten spyte van pogings om hom te keer. In die strafregtelike klag teen O’Sullivan wil die komitee ook ‘n klag insluit dat hy dreigboodskappe aan die personeelhoof van die geskorste minister Senzo Mchunu, gestuur het.
# Die onderwysvakbond, Sadou, sê hy is ontsteld oor ’n video op sosiale media van ’n onderwyser by die Thembalethu Primary School in George, waar ’n graad 1-leerder gespot word omdat hy nie ’n pastei by ’n fondsinsamelingsgeleentheid kon bekostig nie. Die onderwyser treiter die kind en gee sy klasmaats opdrag om nie hul pasteie met hom te deel nie. Die onderwyser is geskors. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle veroordeel die voorval ten sterkste:
# Die Amerikaanse president Donald Trump maak daarop aanspraak dat hy die oorlog teen Iran gewen het. Sy uitlatings volg teen die agtergrond van meningspeilings wat wys Amerikaners is verdeeld oor die aanvalle teen Iran en bekommerd oor die oorlog se uitwerking op die petrolprys. Hy het sy ondersteuners in Kentucky meegedeel Iran se militêre en kernkrag is aansienlik verswak en die Amerikaanse weermag sal die taak vinnig afhandel.
# Sokker: Arsenal se perfekte ronde in vanjaar se Kampioeneliga is verby nadat hulle in die ronde van 16 se eerste deel op die BayArena in Duitsland met een-elk gelykop gespeel het teen Leverkusen. Kai Havertz het in die 89ste minuut met ’n strafdoel geslaag om die telling gelykop te maak. Die heersende kampioene, Paris Saint-Germain, het Chelsea met 5-2 verpletter, met plaasvervanger Khvicha Kvaratskhelia wat twee doele bygedra het. Federico Valverde het ’n driekuns behaal en die 15-malige kampioene, Real Madrid, se 3-0-sege teen Manchester City by die Bernabeu verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-487-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-151-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 97-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….