Nuus 09:00
BULLETIN 10 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wêreldbank ondersteun Suid-Afrika om infrastruktuur-ontwikkeling te versnel
# Iran se minister van Buitelandse Sake sê Amerika en Israel het die Midde-Ooste onbestendig gemaak
# En tennis: Twee gekeurdes word uitgeskakel, maar Djokovic haal Indian Wells se laaste 16
# Die Wêreldbank het die Suid-Afrikaanse Gemengde Finansieringsplatform vir Veerkragtige Infrastruktuurprogram goedgekeur. Dit sal krediet-gewaarborgde gereedskap skep om beleggersrisiko te verminder en befondsing vir infrastruktuur-ontwikkeling te bevorder. Die platform, wat ’n privaat nie-lewensversekerings-maatskappy sal wees, sal oor die volgende dekade sowat 160-miljard-rand se kapitaal bekom. Die Nasionale Tesourie sal aanvanklik twee-miljard-rand bydra. Die Wêreldbank sê belegging in infrastruktuur is belangrik vir Suid-Afrika se pogings om groei te bevorder en werk te skep.
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, verwelkom Suid-Afrika se aanstelling op die Verenigde Nasies se Kommunikasie-werksgroep van die Kommissie oor die Status van Vroue. Die kommissie bevorder vroue en meisies se regte, teken die werklikhede van hulle lewens aan en vorm die wêreldstandaard oor geslagsgelykheid. Chikunga sê die aanstelling weerspieël die land se toewyding om geslagsgelykheid te bevorder:
# Die Vryheidsfront Plus sê die Stad Tshwane het in die 2024/25-boekjaar meer as 37-miljoen rand se salarisse betaal aan geskorste amptenare wat tuis sit en wag vir hul tugverhore. ‘n Verslag van die afdeling vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste toon 27 werknemers is tans geskors, waarvan 23 langer as drie maande op hul verhore wag. Roché Grebe van die VF Plus se sê hierdie onnodige vertragings spruit uit swak administrasie:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het die kans op onderhandelings met Amerika verwerp en verwys na verlede maand se laaste gesprekke oor kernwapens. Amerikaanse en Israelse vegvlieëniers het gister opnuut teikens in Iran aangeval in die tweede week van die konflik. Araghchi het aan PBS News gesê Amerika en Israel het onbestendigheid in die Midde-Ooste veroorsaak en is die oorsaak van ontwrigting in olieproduksie en stygende pryse:
# Tennis: Die vyfmalige kampioen, Novak Djokovic, is die eerste keer sedert 2017 deur na die laaste 16 op die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die Serwiër het die plaaslike speler Aleksandar Kovacevic verslaan en pak volgende die verdedigende kampioen, Jack Draper, nadat die Brit met Francisco Cerundolo van Argentinië afgereken het. Die Amerikaner Alex Michelsen het die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal toe hy sy sewende-gekeurde landgenoot, Taylor Fritz, verslaan het. Die Brit Cameron Norrie het die agtste-gekeurde Australiër, Alex de Minaur, geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-661-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-162-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-en-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….