Nuus 09:00
BULLETIN 9 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party berei voor vir regstappe teen Paul O’Sullivan en Sarah-Jane Trent
# Minstens 32 mense is beseer in Iranse hommeltuigaanvalle op Bahrein
# En tennis: Sinner en Sabalenka dring deur na die ronde van 16 op Indian Wells
# Die MK-party berei voor vir regstappe teen die privaat speurder Paul O’Sullivan en sy voormalige assistent, Sarah-Jane Trent, wat volgens die party Suid-Afrika se regstelsel beïnvloed en politiseer. Trent het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê O’Sullivan se onderneming, Forensics for Justice, het talle hoëprofiel-sake aanhangig gemaak, insluitend teen Duduzile Sambudla-Zuma. MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê hy ondersoek ook die moontlikheid om strafregtelike klagte teen hulle te lê:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta erken die werk wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente doen om studente se uitstaande probleme, insluitend met verblyf, op te los. Raadsvoorsitter Mugwena Maluleke het aangekondig die skema het 224-duisend-983 verblyfaansoeke vanaf studente ontvang en 148-duisend-825 studente en verblyfverskaffers het getekende huurkontrakte ingedien. Makaneta vra NSFAS om vinnig op te tree en te verseker daar is algemene nakoming, veral vir studente in privaat studenteverblyf:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het ‘n dringende verslag versoek van die onderwys- en opleidingsowerheid van die Onderwys-, Opleidings- en Ontwikkelingspraktyke-sektor oor ‘n huurooreenkoms van 15-miljoen-rand in Johannesburg. Die staats-instelling betaal huur vir ‘n gebou wat weens talle gesondheidsbedreigings nie gebruik kan word nie. Woordvoerder Matshepo Seedat sê die departement is baie bekommerd oor die bestuur, nakoming van gebou-regulasies en die moontlike gevolge vir openbare fondse:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 32 mense is vroeg vanoggend beseer, vier ernstig, in Iranse hommeltuig-aanvalle op die Bahreinse eiland Sitra. Die jongste slagoffer is twee maande oud. Bahrein se nasionale kommunikasiesentrum sê die aanvalle is uitgevoer op burgerlike woongebiede naby energie-infrastruktuur en het aansienlike skade aangerig. Intussen het die Israelse Weermag vandag ’n nuwe vlaag aanvalle op sentraal-Iran uitgevoer en ook Hizbollah-infrastruktuur in Beirut, Libanon, getref.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, en die Duitser Alexander Zverev is deur na die ronde van 16 op die Indian Wells-meesterstoernooi in Kalifornië. Sinner het die Kanadees Denis Shapovalov verslaan om die vyfde keer die vierde ronde te haal. Die vierde-gekeurde Zverev het Brandon Nakashima van Amerika geklop. In die vroue-afdeling het die top-gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus die Roemeen Jaqueline Cristian maklik verslaan om die laaste 16 te haal. Die Amerikaner Amanda Anisimova het die Brit Emma Raducanu binne 53 minute verpletter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-526-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-90-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-en-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….