Nuus 09:00
BULLETIN 7 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Patrice Motsepe ontken dat hy vir ANC-president staan
# President Ramaphosa sal ’n huldeblyk lewer aan eerwaarde Jesse Jackson
# En motorsport: Die Midde-Oosterse F1-wedrenne sal nie vervang word as hulle gekanselleer moet word nie
# Die Suid-Afrikaanse miljardêr-sakeleier Patrice Motsepe het gerugte ontken dat hy as kandidaat vir die ANC-presidentspos by die party se nasionale verkiesingskonferensie in 2027 gaan staan. Daar was voorstelle vanuit ANC-kringe dat Motsepe moontlik sy hoed in die ring kan gooi as ‘n kandidaat om sy swaer, Cyril Ramaphosa, te vervang. Motsepe het gister die aandeelhouers van sy maatskappy African Rainbow Minerals toegespreek en die gerugte ontken en gesê dat hy geen idee het waar dit vandaan kom nie:
# President Ramaphosa sal vandag saam met lede van die Jackson-familie, die PUSH Rainbow Coalition, die breër Amerikaanse burgerregtebeweging en ander Amerikaanse en internasionale hoogwaardigheidsbekleërs hulde bring aan wyle eerwaarde Jesse Jackson. Die president se woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa sal later vandag sy huldeblyk lewer tydens die privaat begrafnisplegtigheid in Chicago:
# Die landbou-organisasie TLU SA is tevrede met die rekord-uitvoerprestasie van Suid-Afrika se landbousektor in die vierde kwartaal van 2025. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die land se totale uitvoere het teen die einde van die vierde kwartaal ‘n rekord van 581,5-miljard-rand bereik, met landbou wat 268,7-miljard-rand bygedra het. Bennie Van Zyl van TLU SA sê die landbousektor bly ‘n belangrike bydraer tot Suid-Afrika se ekonomie:
# Die DA in die Wes-Kaap het die uitbrand van nege minibustaxi’s by die Nyanga-staanplek veroordeel. Die party sê die daad is ‘n regstreekse aanval op die mobiliteit en bestaan van die gemeenskap en is ‘n ernstige misdaad. Benedicta van Minnen van die DA sê sulke wetteloosheid het geen plek in die provinsie nie, en hulle ondersteun die pendelaars wat deur die voorval slagoffers geword het. Sy het ‘n beroep op die polisie gedoen om hulle sigbaarheid by vervoerspilpunte te verhoog en ondersoeke na die voorvalle van taxigeweld te verskerp.
En sportnuus:
# Motorsport: Formule Een beplan nie enige plaasvervangers indien volgende maand se Grand Prix in Bahrein en Saoedi-Arabië afgestel moet word weens die konflik in die Midde-Ooste nie. Daar is ernstige twyfel of dit sal kan voortgaan terwyl Iran Amerikaanse en Israelse belange in die lande teiken uit wraak vir hulle aanvalle op Teheran. Die beheerliggaam, F-I-A, gaan volgens berigte teen 20 Maart ‘n besluit neem. Ander renbane word as moontlike plaasvervangers genoem, maar dit is nie genoeg tyd om wedrenne te reël nie.
# En sokker: Marokko se nasionale span en afrigter, Walid Regragui, se paaie het drie maande voor die Wêreldbekertoernooi geskei. Die land se beheerliggaam het Mohamed Ouahbi as sy plaasvervanger aangewys. Regragiu vertrek al het hy die Atlas Lions in 2022 gehelp om die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi te haal, asook die eindstryd van die Afrikabekertoernooi verlede jaar. Hy sê hy verlaat die span met dankbaarheid en sekerheid dat hy sy land gedien het. Die 49-jarige Ouahbi het Marokko in Oktober gehelp om die onder 20-Wêreldbeker te wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….