Nuus 09:00
BULLETIN 4 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE se leier Mosiuoa Lekota is in die ouderdom van 77 jaar oorlede
# DA sê DIRCO doen nie genoeg om gestrande Suid-Afrikaners in konflik-geteisterde Midde-Ooste te help nie
# En Alcaraz, Sinner, Ledecky en Norris word benoem vir die Laureus-wêreldsporttoekennings
# Die Congress of the People se stigter en leier, Mosiuoa Lekota, is op 77-jarige ouderdom dood. Die voormalige minister van Verdediging en Vrystaatse premier is vroeg vanoggend in ’n Johannesburgse hospitaal oorlede. Lekota het verlede jaar uit politiek getree om op sy gesondheid te fokus, waarna Teboho Loate as COPE se tussentydse leier aangestel is. Die omstandighede rondom sy dood is nog nie bekend nie.
# Die DA het die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking versoek om betroubare kanale vir kommunikasie en noodkonsulêre dienste beskikbaar te stel vir Suid-Afrikaners wat in lande en state in die Midde-Ooste gestrand is. Dit spruit uit die onlangse Israels-Amerikaanse militêre aanvalle op Iran en die gevolglike vergeldingsaanvalle wat in verskeie lande tot die kansellasie van vlugte gelei het. Ryan Smith van die DA sê DIRCO se onbevoegdheid wat dié kwessie betref, kan Suid-Afrikaners hul lewens kos:
# President Donald Trump het intussen voorgestel dat die Amerikaanse vloot tenkskepe deur die Straat van Hormuz kan begelei indien nodig. Verskeping deur die seestraat, wat een-vyfde van die olie hanteer wat wêreldwyd verbruik word en groot hoeveelhede gas hanteer, het byna tot stilstand gekom te midde van Iranse aanvalle op olietenkskepe in die gebied. Nagenoeg 150 skepe is naby die seestraat gestrand. Trump sê Amerika sal billike risikoversekering aan die verskepingsmaatskappye in die streek verskaf om die vrye vloei van energie na die wêreld te verseker.
#AfriForum sê die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Waterdienste kan die waterkrisis vererger as beheer gesentraliseer word sonder om onderliggende institusionele mislukkings reg te stel. Die organisasie waarsku dat politieke aanstellings, swak toesig en verminderde professionele kapasiteit steeds die werklike probleme is. Lambert de Klerk van AfriForum doen ‘n beroep op die parlement om onafhanklikheid, tegniese bevoegdheid en prosedures te verseker, en om die privaat sektor toe te laat om betrokke te raak by dienslewering en die verbetering van watergehaltestandaarde:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap het bevestig dat vyf gevalle van bek-en-klouseer in Mosselbaai aangemeld is. Drie moontlike gevalle is ook getoets, maar die uitslae is nog nie bekend nie. Die hoof van rampbestuur in die munisipaliteit, Gerhard Otto, sê 12-duisend-659 dosisse entstof is op 62 plase toegedien. Otto sê bek-en-klouseer is ook by ‘n beeskudde minder as tien kilometer van die indeksplaas af bevestig:
# Laureus-toekennings: Die tennis-sterre Carlos Alcaraz en Jannik Sinner is benoem vir die 2026 Laureus-toekennings se Sportman van die Jaar. Hulle is op die kortlys saam met die paalspring-rekordhouer Armand Mondo Duplantis, PSG se Ousmane Dembélé en die MotoGP-kampioen, Marc Márquez. Op die vroue se kortlys is die baanatlete Sydney McLaughlin-Levrone, Faith Kipyegon en Melissa Jefferson-Wooden, asook die swemmer Katie Ledecky, tennisspeler Aryna Sabalenka en sokkerspeler Aitana Bonmatí. Die Formule Een-kampioen, Lando Norris, en veerpyltjiekampioen Luke Littler is op die kortlys vir Deurbreker van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-615-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-164-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-en-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….