Nuus 09:00
BULLETIN 3 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisieministerie sal nie inmeng by die Phala Phala-verslag nie
# Siviwe Gwarube en Karabo Khakhau betwis senior federale posisies in die DA
# En video’s van Bill en Hillary Clinton se verklarings oor Jeffrey Epstein word vrygestel
# Die Ministerie van Polisie het verduidelik dat die waarnemende minister, Firoz Cachalia, nie by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat se ondersoeke of bevindings inmeng of dit lei nie. Dit volg nadat die OPOD-verslag oor die 2020-inbraak by president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas in Limpopo gedeklassifiseer is. Die verslag was voorheen “Hoogs Geheim”. Die Polisie-ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Cachalia se rol is streng omskryf en deur wetgewing beperk om OPOD se onafhanklikheid te beskerm:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bevestig dat sy om een van die DA se drie posisies vir adjunk-voorsitter in die federale raad meeding. Dit is met die oog op die party se verkiesingskongres in April, waar ‘n nuwe leier verkies sal word. Gwarube sê dit is noodsaaklik dat die DA die grootste party in Suid-Afrika word om die verandering te bewerkstellig wat die land dringend benodig. DA nasionale woordvoerder van die party, Karabo Khakhau, het intussen die benoeming aanvaar vir eerste adjunk-voorsitter van die party se federale raad – die party se hoogste besluitnemingsliggaam tussen kongresse.
# President Cyril Ramaphosa het medelye betuig met die families van die ses werkers wat dood is toe ’n gebou gister in Ormonde, suid van Johannesburg, ineengestort het. Volgens berigte het die werkers pas die betonvloer vir die tweede verdieping gegiet toe die struktuur intuimel en werkers onder puin vaskeer. Drie mense word nog vermis. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president waardeer die dringendheid waarmee reddingspanne hul taak verrig:
# Die Amerikaanse Huis-oorsigkomitee het oudpresident Bill Clinton en sy vrou, Hillary Clinton, se verklarings wat agter geslote deure op video afgelê is, amptelik vrygestel. Hulle het verlede week vrae voor die Republikeins-geleide komitee beantwoord oor die veroordeelde seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, en sy vriendin, Ghislaine Maxwell. Die egpaar ontken enige vooraf kennis van Epstein se misdade. Hillary Clinton het in haar getuienis gesê president Donald Trump moet gedwing word om voor die kommissie te verskyn:
# Atletiek: Die Agentskap teen Verbode Middels van Kenia het 27 atlete geskors rakende die oortreding van reëls oor verbode middels. Die groep sluit in Kenia se 400-meter-hekkieskampioen, Wiseman Were, en ‘n vorige wenner van die Boston- en Chicago-marathonne, Rita Jeptoo. Die 28-twintigjarige Were is geskors omdat hy sedert Augustus drie toetse misgeloop het. Jeptoo is geskors ná ‘n toets vir verbode anaboliese androgeniese steroïede. Die groep sluit ook sokker- en basketbalspelers in wat voorlopig geskors is oor verskeie oortredings met verbode middels.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-394-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-364-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-en-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….