Nuus 09:00
BULLETIN 25 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Ramaphosa kom nie meer polities verswak voor nie
# Donald Trump smous met sy ekonomiese suksesse in die staatsrede
# En krieket: Engeland is die eerste span wat ’n plek in die halfeindstryd van die T20 Wêreldbeker beklink
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê president Cyril Ramaphosa se hervormingsagenda bou momentum, wat help om die Suid-Afrikaanse ekonomie te bestendig en vertroue in die regering te versterk. Die buro glo verbeterde fiskale dissipline, laer inflasie en voortgesette institusionele hervormings skep ‘n meer bestendige ekonomiese omgewing. Die Buro sê die vordering verlaag die risiko dat Ramaphosa ‘n swak leier word, omdat die ANC, wat reeds deel van ‘n koalisie is, nie nog ‘n verdelende herroeping kan bekostig terwyl hervormings vrugte afwerp nie.
# Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se minister van Gesondheid vra sterker vennootskappe, groter belegging in gesondheidsinfrastruktuur en vinniger opleiding van gesondheidswerkers. Die minister het ‘n tweedaagse vergadering in Johannesburg gehou om oorsig te doen wat vordering in streeksgesondheid betref en samewerking te versterk. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê sterker stelsels vir basiese gesondheidsorg is noodsaaklik om uitkomstes in die SAOG-streek te verbeter:
# Die Stad Kaapstad het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak verwelkom oor pogings om te keer dat 50 van die stad se eiendomme vir belegging aan die privaat sektor opgeveil word. Die metro gaan die eiendomme, insluitend die Goede Hoop-sentrum, môre opveil. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die eiendomme se vrystellingsproses is wettig, deursigtig en daarop gemik om ekonomiese en maatskaplike waarde vir Kaapstad se inwoners te verseker:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Amerika is terug: groter, beter, ryker en sterker as ooit tevore. Trump het in sy staatsrede aan ‘n gesamentlike sitting van die Kongres sy ekonomiese agenda geprys en gesê hy het toegesien dat die grootste ommekeer ooit plaasvind. Trump het sy administrasie met dié van die vorige president, Joe Biden, vergelyk en gesê hy het Amerika op ‘n stewiger finansiële grondslag geplaas. Hy sê sy administrasie het ‘n transformasie bewerkstellig soos nog nooit voorheen nie:
# Krieket: Engeland het na die halfeindronde van die T20-Wêreldbeker deurgedring met nog een wedstryd in die Super 8 oor toe hulle Pakistan in Pallekele met twee paaltjies geklop het. Pakistan het 164 vir nege aangeteken, met Liam Dawson wat drie paaltjies geneem het. Engeland se kaptein, Henry Brook, het in antwoord Engeland se toporde van ‘n ineenstorting gered met ‘n honderdtal van 51 balle en het sy span gehelp om die teiken te bereik met vyf balle oor. Pakistan moet Saterdag die medegasheer Sri Lanka klop en hoop ander uitslae is in hul guns om die halfeindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-468-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-184-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-en-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….