Nuus 09:00
BULLETIN 24 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê Begroting 2026 moet fiskale dissipline versterk
# Die EFF in Gauteng sê die provinsiale rede was net ‘n herhaling van beloftes
# En die Amerikaanse weermag teiken nog ‘n beweerde dwelmboot en laat drie slagoffers
# Business Leadership South Africa sê strukturele hervormings en fiskale dissipline lê die grondslag vir ekonomiese groei, maar waarsku die maatreëls sal nie dadelik ‘n positiewe uitwerking hê nie. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso moedig in haar weeklikse nuusbrief, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aan om fiskale konsolidasie te handhaaf, uitgawe-oorsigte voort te sit, en te verseker die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ten volle befonds. Sy vra dat reddingsboeie vir onderpresterende staatsondernemings weerstaan moet word. Mavuso vra ook vir ‘n duidelike aandui dat belastingverhogings nie beplan word nie.
# Die DA sê hy sal bykomende bewyse by die Openbare Beskermer indien as deel van die voortgesette ondersoek na die Passasierspooragentskap – Prasa. Dit volg op nuwe onthullings oor beweerde korrupsie en misstappe met verkryging uit algemene opknappingskontrakte van 7,5-miljard rand vir treine. Chris Hunsinger van die DA sê hul oorspronklike klag het klem geplaas op nagenoeg 3,5-miljard-rand wat aan die GO-kontrakte bestee is, terwyl treine steeds agteruitgegaan het in plaas daarvan om pendelaars te bedien:
# Die EFF in Gauteng sê die provinsiale rede van die premier, Panyaza Lesufi, is slegs ‘n herhaling van beloftes wat al sedert 2023 gemaak word. Lesufi het in sy rede klem geplaas op die waterkrisis, die ekonomie, kragonderbrekings, infrastruktuur, misdaad en korrupsie. Die voorsitter van die EFF in die provinsie, Nkululeko Dunga, sê Lesufi het nie terugvoer gegee oor enigiets wat die afgelope jaar bereik is nie, omdat dit nie bestaan nie:
# Die Amerikaanse weermag het gister nog ‘n aanval uitgevoer op ʼn beweerde dwelmboot in die Karibiese See en drie mense is dood. Amerika se Suidelike Bevel sê die vaartuig het op bekende dwelmhandelroetes in die Karibiese See gevaar en het dwelms vervoer. Dit was die sewende aanval vanjaar op ʼn vaartuig. Die jongste een was Vrydag op ʼn boot in die oostelike Stille Oseaan, waarin ook drie mense gesterf het. Minstens 151 is tot dusver dood in die voortgesette militêre veldtog wat Operation Southern Spear genoem word.
# Sokker: UEFA het die Benfica-vleuel, Gianluca Prestianni, vir een wedstryd geskors ná bewerings dat hy rassistiese opmerkings teenoor Real Madrid-voorspeler, Vinícius Júnior, gemaak het. Die voorval het tydens verlede week se eerste deel van die Kampioeneliga plaasgevind, waar Madrid met 1-0 gewen het. UEFA het hom voorlopig geskors, hangende die uitslag van ʼn volledige ondersoek deur ʼn etiek- en tuginspekteur. Prestianni sal die tweede deel van die wedstryd in Madrid misloop. Benfica sê hulle gaan teen Prestianni se tydelike skorsing appelleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-32-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-177-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-en-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….