Nuus 09:00
BULLETIN 23 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Ramaphosa en die ANC besef die Nasionale Gesondheidsversekering is doodgebore
# Rugby: Frankryk klop Italië en het steeds sy oog op ’n Sesnasies Grand Slam
# En One Battle After Another en Sinners maak skoonskip by die BAFTA-rolprenttoekennings
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa en die ANC het uiteindelik besef dat die Nasionale Gesondheidsversekering ‘n doodgebore droom is. Dit volg nadat Ramaphosa formeel belowe het om geen bepalings van die NGV-wet te bekragtig totdat die Konstitusionele Hof uitspraak lewer in twee sake oor hoe die wet goedgekeur is nie. Philip van Staden van die VF Plus sê die tien sake wat tans teen die NGV-wet hangende is, dien as duidelike bewys dat die wetgewing heeltemal geskrap moet word:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering is daartoe verbind om kragvermindering landswyd teen die einde van April te beëindig, en teen die einde van die jaar heeltemal af te skaf. Kragvermindering is ‘n Eskom-strategie wat elektrisiteitsverbruik in sekere gebiede beperk om die netwerkinfrastruktuur te beskerm. Provinsies, insluitend die Vrystaat, Oos-Kaap en Noordwes, het kragvermindering. Ramokgopa sê die uitskakeling van onwettige verbindings, die versterking van infrastruktuur en die opgradering van transformators is die sleutel tot die sukses van die beëindiging van kragvermindering.
# ActionSA in Johannesburg het die onlangse hofbeslissing verwelkom wat ‘n omstrede watertenk-tender van 263-miljoen-rand ongeldig verklaar het. Johannesburg Water het die tender in 2024 toegeken aan Builtpro Construction en Nutinox, om 70 watertenkwaens vir drie jaar in die Stad Johannesburg te lewer. In Desember 2025 het ‘n hof egter ‘n mededingende bieder se aansoek aanvaar dat die tender verval het voordat dit toegeken is, wat die kontrakte ongeldig maak. ActionSA se Mpumi Edward sê diegene wat verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word:
# Rugby: Frankryk het in die Stade Pierre-Mauroy in Lille ‘n 33-8-bonuspuntoorwinning oor Italië behaal en is ʼn stap nader aan ʼn Sesnasies Grand Slam en agtereenvolgende titels. Les Bleus het vyf drieë gedruk teenoor die een van Italië. Frankryk reis na Edinburgh om Saterdag, 7 Maart, teen Skotland kragte te meet. ʼn Bonuspunt-oorwinning op Murrayfield sal die titel vir Fabien Galthie se span beklink. Frankryk se verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, sê dit was ʼn taai wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-868-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-161-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: One Battle After Another het die 79ste BAFTA-rolprenttoekennings in Londen oorheers en ses toekennings gewen, insluitend beste rolprent, beste ondersteunende akteur vir Sean Penn, en beste regisseur vir Paul Thomas Anderson. Ryan Coogler se vampierriller Sinners het met drie toekennings weggestap: beste oorspronklike draaiboek, beste oorspronklike klankbaan en beste ondersteunende aktrise vir Wunmi Mosaku. Die rolprent is die mees bekroonde film van ‘n swart regisseur. Die toekenning vir beste akteur het gegaan na Robert Aramayo vir I Swear, terwyl Jessie Buckley die toekenning vir beste aktrise gewen het vir Hamnet, wat ook as uitstaande Britse rolprent aangewys is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….