Nuus 09:00
BULLETIN 19 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit sê Suid-Afrika se kernsektor is ‘n strategiese bate
# Saftu is bekommerd oor die krisis in die suikerbedryf
# En Israel verhoog sy waaksaamheidsvlak te voorbereiding van ‘n aanval saam met die VSA op Iran
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê Suid-Afrika se kernkragsektor bly ‘n strategiese nasionale bate wat energiesekerheid, gevorderde wetenskap, gesondheid, vaardigheidsontwikkeling en nywerheidsvermoë ondersteun. Die land het twee kernreaktors wat vyf-persent van sy elektrisiteit opwek. Graham-Maré sê Suid-Afrika toon steeds globale leierskap in kerntegnologie. Dit sluit radio-isotoop-produksie in wat lewensreddende mediese behandeling wêreldwyd ondersteun:
# Die vakverbond Saftu het kommer uitgespreek oor die toenemende krisis in die land se suikerbedryf en die verwoestende gevolge wat dit kan inhou vir werkers en die breër produktiewe ekonomie. Dit volg nadat Tongaat Hulett se sakeredding-praktisyns by die hof aansoek gedoen het om die maatskappy onder voorlopige likwidasie te plaas. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê die moontlike sluiting van suikermeulens se bedrywighede wat met Tongaat Hulett se voorlopige likwidasie verband hou, kan streeksekonomieë lamlê:
# Informele handelaars in die Stad Johannesburg hou vandag ʼn optog teen wat hulle beskryf as die metropolisie se teistering en swak behandeling van wettige handelaars in die Middestad-verbeteringsdistrik. Die metropolisie het verlede jaar toegeslaan op informele handel, veral in digbevolkte gebiede soos De Villiersstraat. Die handelaars eis die herafbakening van handelstaanplekke en die uitreiking van permitte. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê hulle sal voortgaan om verordeninge af te dwing:
# Israel het sy gereedheidsvlak verhoog en het begin om sy militêre voorbereidings te verskerp ná toenemende aanduidings dat hy en die VSA eersdaags ‘n gesamentlike aanval op Iran kan uitvoer. President Donald Trump oorweeg volgens berigte ‘n omvattende militêre aanval op Iran nadat dié regering in onderhandelings nie aan die VSA se eise wou toegee nie. Die premier van Israel, Benjamin Netanyahu, het na bewering vandeesweek verskeie spesiale beraadslagings oor gehou oor die weermag se gereedheid en die beoogde samewerking. Die VSA en Israel het verlede jaar Iran se ondergrondse kern-aanlegte in ‘n gesamentlike aanval vernietig.
# Krieket: Australië moet van voor af begin na hul vroeë uitskakeling uit die T20-Wêreldbeker. Die 2021-kampioen het twee van hul eerste drie groepwedstryde verloor en kwalifiseer nie vir die Super Agt-fase nie. Australië se probleme word glo toegeskryf aan die gebrek aan opvolgers vir hul ouer-wordende supersterre wat aan die einde van hul loopbane is. Die land se Wêreldbeker-probleme kan ‘n invloed op hul posisie op die wêreldranglys hê, en kan beteken dat Australië nie vir die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles kwalifiseer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-928-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-968-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-en5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….