Nuus 09:00
BULLETIN 16 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse slagoffer beskryf Jeffrey Epstein as ‘n meesterbrein-misdadiger
# Die Bondi Beach-aanvaller maak sy eerste hofverskyning
# En rugby: Frankryk behaal bonuspunt-oorwinning oor Wallis in strewe na ’n Sesnasies Grand Slam
# Die Suid-Afrikaanse slagoffer van Jeffrey Epstein, Juliette Bryant, het die ontslape veroordeelde seksoortreder as ‘n meesterbrein en hoogs manipulerend beskryf. Sy is in 2002 deur Epstein in Kaapstad gewerf as ‘n 20-jarige eerstejaar-universiteitstudent en aspirant-model. Sy sê hy het haar verskeie kere tussen 2002 en 2004 op sy privaat eiland in die Karibiese Eilande, en sy plaas in Nieu-Mexiko, mishandel. Bryant het aan Newzroom Afrika gesê sy is nie met ander mans gedeel nie, maar herhaaldelik deur Epstein verkrag:
# Die vakbonde in die Koördinerende Bedingingsraad van die Staatsdiens verwerp die verhoging van 9,8-persent in ledebydraes in die mediese skema vir staatsamptenare, GEMS. Die skema verdedig die verhoging en sê dis noodsaaklik vir langtermynvolhoubaarheid en om sy 25-persent statutêre reserwe-vereiste te handhaaf. Die verhoging sal in April tot 9,5-persent aangepas word. Die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika se president, Simon Hlungwani, sê die verhoging is onredelik:
# Die DA in Gauteng het kommer uitgespreek oor die verdeling van water in die provinsie, aangesien die provinsiale regering nie ‘n skedule aan inwoners verskaf nie. Die verdeling beteken dat water van reservoirs met genoeg voorraad na dié wat leeg raak herlei word, in ‘n poging om die stelsel te balanseer en ‘n totale ineenstorting te voorkom. Stephen Moore van die DA sê daar is ‘n behoefte aan duidelike tydlyne en deursigtigheid wat gemeenskappe, sakeondernemings, klinieke en skole in staat stel om te beplan:
# Die beskuldigde wat in Desember tydens ‘n Joodse Hanukkah-viering by Sydney se beroemde Bondi Beach in Australië losgebrand het, het vandag vir die eerste keer in die hof verskyn. Die 24-jarige Naveed Akram staan tereg op 59 aanklagte, insluitend 15 van moord en een aanklag dat hy ‘n terroriste-aanval gepleeg het. Sy pa, Sajid Akram, is tydens die aanval deur die polisie doodgeskiet. Akram se prokureur, Ben Archbold, sê dit is te vroeg om te sê wat sy kliënt sal pleit. Hy moet weer op 9 April in die hof verskyn.
# Rugby: Die verdedigende kampioene, Frankryk, het Wallis in Cardiff met 54-12 verpletter in hul strewe na ‘n Sesnasies Grand Slam. Die Franse het agt drieë gedruk en hul tweede bonuspuntoorwinning in die kompetisie behaal. Wallis het sy dertiende agtereenvolgende Sesnasies-nederlaag gely. Die 54 punte wat die Franse in die Walliese hoofstad behaal het, verbeter hul vorige rekord van 51 in 1998. Frankryk is na twee rondes die enigste onoorwonne span in die kompetisie. Hulle takel Sondag vir Italië terwyl Wallis en Skotland sal kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-588-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-975-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….