Nuus 09:00
BULLETIN 14 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lukanyo Calata vra oudpresidente om te getuig voor die WVK-saakondersoek
# Statistieke SA sê daar was ‘n afname van 1,4-persent in vervaardigingsproduksie in Desember
# En gholf: Die Meesterskampioen, Patrick Reed, gaan in die Suid-Afrikaanse Ope speel
# Die tweede getuie voor die Waarheids- en Versoeningskommissie-saakondersoek, Lukanyo Calata, die seun van Fort Calata van die Cradock Vier, het die kommissie versoek om oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma te dagvaar oor die gebrek aan ondersoek en vervolging van WVK-sake. Calata, wat die slagoffers se families verteenwoordig, het die leiers gekritiseer vir die ondermyning van die ondersoek en bevraagteken waarom Mbeki nie op grond van WVK-verslae opgetree het nie. Dit het veroorsaak dat slagoffers se families langdurige geregtigheid ontsê is:
# Statistieke Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Desember verlede jaar met 1,4-persent gedaal, vergeleke met die vorige jaar. Die grootste dalings is aangeteken in voedsel en drank, hout- en papierprodukte, en basiese yster en staal. Petroleum- en chemiese produkte het egter sterk groei getoon. Nicolai Claassen van Statistieke SA sê vervaardigingsverkope het in Desember skerp afdgeneem met 4,5-persent, met die motorvoertuigsektor wat die grootste daling aangeteken het:
# Die Mededingingskommissie het deursoekings- en beslagleggingsoperasies uitgevoer by vier skrootmetaal-aankoopmaatskappye in Gauteng. Die klopjagte het in Germiston, Nigel, Vanderbijlpark en Hammanskraal plaasgevind as deel van ‘n ondersoek na beweerde prysvasstelling. Die maatskappye word daarvan verdink dat hulle skrootmetaalprysverhogings koördineer. Dokumente en elektroniese data is gekonfiskeer vir verdere ontleding. Siyabulela Makunga van die kommissie sê die bekamping van beweerde sameswering in die skrootmetaalmark is die sleutel tot die bevordering van regverdige mededinging.
# Twee mans het gister tronkstraf ontvang vir die beplande moord op honderde mense in ‘n Islamitiese Staat-geïnspireerde aanval op die Joodse gemeenskap in Engeland. Aanklaers sê die aanval kon dodeliker gewees het as Desember se massaslagtimg op Sydney se Bondi Beach. Walid Saadaoui en Amar Hussein is albei skuldig bevind en tot onderskeidelik 37 en 26 jaar gevonnis. Die verhoor het ‘n week begin na ‘n onverwante dodelike aanval op ‘n sinagoge in Manchester, in noordwes-Engeland. Aanklaers sê indien dit sou voortgaan, kon hul plan baie ernstiger gewees het as die aanval in Australië.
# Gholf: Die Meesterskampioen Patrick Reed het sy deelname aan die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap op die Stellenbosch Gholfklub vanaf 26 Februarie tot 1 Maart bevestig. Reed speel vir die eerste keer in gholf se tweede oudste nasionale ope danksy sy terugkeerstatus op die DP World Tour, as deel van die Sonskyntoer. Ander deelnemers sluit in mede-Major-wenner en vyfmalige Suid-Afrikaanse Ope-kampioen Ernie Els, Meesterskampioen Charl Schwartzel, asook Dylan Naidoo, Dean Burmester, Thriston Lawrence, Daniel van Tonder en Branden Grace.
# En ten slotte: Die wynmaker van Stellenbosch, Johan Jordaan is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die wêreld se top Chenin Blanc-produsent gekroon. Jordaan is die Keldermeester by die Spier-Landgoed, en is hierdie week aangewys as Meester Chenin Blanc Wynmaker, tydens die Meester Wynmaker 100-toekenningseremonie in Parys. Die toekenning volg na groot oorwinnings by verlede jaar se Wêreld Wyn-meesterskompetisie. Jordaan sê die erkenning weerspieël ‘n langtermyn fokus op grondgesondheid, volhoubare boerdery en presisie-wynbou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….