Nuus 09:00
BULLETIN 20 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie verdedig die FIFA Wêreldbeker-uitgawe van 31-miljoen-rand
# Die voormalige vlootbestuurder van Emfuleni is gearresteer oor ’n tender van 16-miljoen-rand
# En Iran sê nie ‘n ‘enkele druppel’ olie of gas sal deur die Straat van Hormoes beweeg nie
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die sowat 31-miljoen-rand verdedig wat uitgegee is op Suid-Afrika se FIFA Wêreldbeker-program en sê die departement het niks om weg te steek nie. Dit volg nadat politieke partye die uitgawe as verkwistend beskryf het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê 151 deelnemers, uitsluitend diensverskaffers, het na Mexiko en Amerika gereis, met privaat borge wat ‘n deel van die koste gedek het. Sy sê ʼn finale rekonsiliasie van borge se bydraes moet nog ingehandig word:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het oproepe vir die verwydering van afgetrede regter Takalani Raulinga as oorsigregter van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, veroordeel. Die MK-party beskryf Raulinga se aanstelling as ʼn oordeelsfout weens sy noue bande met die ANC. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê oproepe vir Raulinga se verwydering is swak pogings om die regter te beswadder selfs voor hy die amp beklee. Hy sê die rol van die oorsig-kantoor sal die voorsiening van geregtigheid in die land verbeter.
# Die Gautengse taakspan oor politieke moorde het die naweek ʼn gewese munisipale vlootbestuurder van Emfuleni gearresteer. Dit hou verband met die beweerde onregmatige toekenning van ʼn tender vir munisipale voertuie. Sowat 16-miljoen-rand is aan ʼn diensverskaffer betaal vir 18 munisipale voertuie. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die 42-jarige verdagte sal vandag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie:
# Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wag sê die Straat van Hormoes sal onveilig bly as wat hy noem “Amerikaanse aggressie” in die Midde-Ooste voortduur. Dit volg nadat Washington en Teheran vir ‘n negende agtereenvolgende dag wedersydse aanvalle uitgevoer het. Die groep beweer twee tenkskepe, wat nie aan die vereistes voldoen nie is aangeval, nadat hulle probeer het om die Straat van Hormoes in Oman se gebiedswater oor te steek. Hy het gewaarsku die belangrike waterweg sal onveilig bly vir die vervoer van petrochemiese produkte, met nie ‘n druppel olie of gas wat deurgelaat sal word nie.
# Gholf: Die Nieu-Seelander, Ryan Fox, het die 154ste Ope Kampioenskap en sy eerste major-titel by Royal Birkdale in Engeland gewen. Die 39-jarige Fox het twee-onder 68 aangeteken om voor die Amerikaner, Cameron Young, klaar te maak en die Claret Jug omhoog te hou. Nog ʼn Amerikaner, Sam Burns met twee houe minder, is derde na ʼn laaste rondte van 72. Tommy Fleetwood van Engeland en Amerika se nommer een, Scottie Scheffler, is gesamentlik vierde. Fox sê hy het byna sy gholfstokke gebêre, maar is bly hy het nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-737-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-22-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….