Nuus 09:00
BULLETIN 25 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdiensminister sê die regering het nog nooit ‘n beleid van kaderontplooiing gehad nie
# Die African Transformation Movement vra universiteite om registrasiefooie te skrap in belang van inklusiewe toegang tot onderwys
# En tennis, vandag is vroue-halfeind-dag by die Australiese Ope
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, sê die regering het nie en het nog nooit ‘n beleid van kaderontplooiing gehad nie. Dit ten spyte van die Zondo-kommissie se verslag wat bevind het die ANC se kaderontplooiingsbeleid is ongrondwetlik en onwettig. Die DA het die minister in ʼn parlementêre vraag gevra of die regering die voorkeur vir kaderontplooiing bo ʼn professionele staatsdiens gaan laat vaar. Kiviet sê indiensneming in die staatsdiens word volgens ʼn meriete-gebaseerde werwing- en keuringstelsel gedoen wat die konsep van kaderontplooiing ontoepaslik maak.
# Die African Transformation Movement doen ‘n beroep op universiteite om registrasiefooie te skrap in belang van inklusiewe toegang tot onderwys. Die ATM sê dit is ‘n ideaal wat in hierdie leeftyd verwesenlik moet word. Die party het die Universiteit van die Vrystaat geprys omdat hy nie meer registrasiefooie vra nie, maar het die Universiteit van die Witwatersrand gekritiseer vir sy hoë aansoekgelde. ATM-woordvoerder, Zama Ntshona, sê hulle gee toe daar is administratiewe koste verbonde aan die verwerking van aansoeke, maar is van mening die las wat dit op voornemende studente plaas, veral dié uit benadeelde agtergronde, kan nie geïgnoreer word nie:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brandbestryders veg voort teen die Kluitjieskraal-brand wat steeds buite beheer woed aan die Suurvlakte-Silwerfontein-kant van die berg bokant Wolseley. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê brandbestryders het verlede nag wel effens vordering gemaak om die brand onder beheer te bring, maar hulle taak word geweldig bemoeilik deur die digte plantegroei wat hoofsaaklik uit groot, gevestigde bloekombome bestaan, tesame met die wind wat voortdurend van rigting verander, die ongelyke terrein en hoë nagtemperature:
# Die Ministerie van Gesondheid van Somalië en sy vennote vra nog befondsing van 105-miljoen-rand om bedrywighede in reaksie op cholera op te skerp. Nege cholera-verwante stergevalle en 474 gevalle is tot dusver vanjaar in die land aangemeld. Meer as 18-duisend-300 gevalle het in 2023 voorgekom, met 55-persent wat kinders onder vyf geraak het. Nege behandelingsentrums is in verskeie distrikte opgerig. Voortgesette pogings om die siekte te bestry duur voort, insluitende gemeenskapsopvoeding, materiaal om die bewustheid te verbeter, asook radioboodskappe oor die veilige hantering van water en voorskrifte vir higiëne.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, speel vandag teen die Amerikaanse tiener Coco Gauff, vir ‘n plek in die Australiese Ope-eindstryd. Sabalenka het in die Amerikaanse Ope by Flushing Meadows met drie stelle teen Gauff verloor. Sy het reeds 12 opeenvolgende Australiese Ope-wedstryde gewen en ses keer agtereenvolgens deurgedring na Major-halfeindstryde. Gauff het reeds 12 agtereenvolgende Grand Slam-wedstryde gewen. Die wenner vandag sal teen China se Zheng Qinwen, óf die Oekraïnse kwalifiseerder Dayana Yastremska te staan kom. Nie een van dié twee het al voorheen ‘n Major-eindstryd gehaal nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-843-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-15-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….