Nuus 09:00
BULLETIN 8 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisie begin ‘n geregtelike doodsondersoek nadat ‘ngeïmpliseerde by die Madlanga-kommissie sy eie lewe neem
# Suid-Afrika gaan sy soldate aan die DRK onttrek
# En rugby, die Blitsbokke is deur na die eindstryd van die Sewestoernooi in Perth
# Die polisie het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek begin is nadat ‘n 41-jarige man homself glo gister by ‘n Brakpan-vulstasie in Ekurhuleni, doodgeskiet het. Wiandré Pretorius is tydens die Madlanga-kommissie betrek by die moord in 2022 van ‘n verdagte van Brakpan. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê alle rolspelers, insluitend speurders en forensiese deskundiges, het die misdaadtoneel besoek. Sy sê die saak word ondersoek.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke is bekommerd oor toenemende renosterstropery in die Krugerwildtuin in Mpumalanga. Woordvoerder Rey Thakhuli sê veldwagters het verlede Donderdag op vermeende stropers in die Malelane-deel van die park afgekom. Geen arrestasies is gemaak nie, maar ‘n hoëkaliber vuurwapen en sakke is op die toneel gevind. Hy sê een verdagte is Vrydag in die Stolznek-deel van die park doodgeskiet tydens ‘n konfrontasie met veldwagters:
# Die Activists and Citizens Forum sê watervoorsieningsprobleme landwyd het ‘n krisisstadium bereik. Woordvoerder Dennis Bloem sê die waterprobleem is ‘n kombinasie van sabotasie, korrupsie en onbevoegde munisipaliteite. Hy sê die regering het die mense van die land in die steek gelaat:
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, is vandag gasheer vir ‘n vergadering vir belanghebbendes by leerdervervoer in Johannesburg. Sy sê die betrokkenheidsvergadering sal dien as ‘n platform om sleutelbesprekings oor gedeelde verantwoordelikhede oor leerdersveiligheid, voldoeningsafdwinging, asook die uitdagings van operateurs in die sektor bevorder. Die LUR sê kwessies ter bespreking sluit onder andere in verkeerswette en -regulasies, lisensie-agterstande, herstruktureringsinisiatiewe en operasionele uitdagings.
# President Cyril Ramaphosa het die VN-sekretaris-generaal, Antonio Guterres, meegedeel dat die Suid-Afrikaanse regering besluit het om sy soldate te onttrek aan die Verenigde Nasies se sending in die Demokratiese Republiek van Kongo. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê Suid-Afrika is onder die top tien lande wat soldate aan MONUSCO voorsien. Suid-Afrika het meer as sewehonderd soldate wat in die DRK ontplooi is ter ondersteuning van die sending se vredesmandaat:
# En rugby, die Blitsbokke het vroeër ‘n oortuigende oorwinning van 24–12 oor Australië behaal, in die halfeindstryd van die Sewestoernooi in Perth. Shilton van Wyk het die eerste punte aangeteken, gevolg deur ‘n uitstekende drie van 90 meter deur Sebastiaan Jobb wat Suid-Afrika teen rustyd ‘n voorsprong van 14–5 gegee het. Ten spyte van ‘n teenaanslag het die Suid-Afrikaners beheer behou en hul plek in die eindstryd teen Fidji bespreek. Die Eilanders het Nieu-Seeland vroeër oortuigend met 35–0 verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….