Nuus 09:00
BULLETIN 7 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê Botswana sal teen die einde van die maand 700-duisend dosisse bek-en-klouseer entstof verskaf
# Die VSA mik vir ‘n Oekraïense vredesooreenkoms teen Maart
# En krieket: Totale van meer as 300 word vir die eerste keer in ‘n T20 Wêreldbeker verwag
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die Botswana-entstofinstituut het die voorsiening van 700-duisend dosisse bek-en-klouseer-entstof teen die einde van hierdie maand bevestig. Steenhuisen het die Landbounavorsingsraad se Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingsfasiliteit besoek om die afhandeling van die eerste plaaslik vervaardigde bek-en-klouseer-entstowwe te aanskou. Hy sê Suid-Afrika het reeds deur die Botswana-entstofinstituut twee-miljoen entstowwe verkry, gemonitor en toegedien. Steenhuisen sê Suid-Afrika sal maandeliks voorrade van 700-duisend-dosisse in April, Mei en Junie ontvang.
# Die Nasionale Beplanningskommissie het ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om voor die Staatsrede volgende Donderdag die sentraliteit van die Nasionale Ontwikkelingsplan: Visie 2030 te herbevestig. Die kommissiewoordvoerder, Sandisiwe Mapine, sê die 2026 staatsrede bied die perfekte geleentheid vir die president om die belangrikheid van langtermynbeplanning te bevestig om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter, selfs in hierdie tye van koalisieregering:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die voorverhoor van die omstrede sakeman, Vusimusi ‘Cat’ Matlala, en sy medebeskuldigdes tot volgende Donderdag uitgestel. Die datums in die saak van poging tot moord sal volgende week bespreek word. Matlala en sy vyf medebeskuldigdes, insluitend sy vrou, Tsakani Matlala, staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde moord op sy eksmeisie, Tebogo Thobejane. Matlala se regsverteenwoordiger het tydens die verrigtinge kommer uitgespreek oor toegang tot dokumente en privaat raadpleging, en gesê borgtog ná nuwe feite is op die punt om toegestaan te word.
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge sê hy beplan om die finale verslagraamwerk vir die Padongelukkefonds volgende week goed te keur. Die voorsitter, Songezo Zibi, het bevestig dit word saamgestel met konsepberaadslagings wat teen die einde van die maand verwag word. In ‘n onderhoud met SABC News het Zibi die volle samewerking van die Ministerie van Vervoer en die raad van die Padongelukkefonds bevestig. Hy het gevra vir dringende hervormings voor die verslag in die Parlement ter tafel gelê word aangesien die fonds insolvent is:
# Amerikaanse en Oekraïense onderhandelaars het ‘n ambisieuse Maart-doelwit bespreek vir Rusland en Oekraïne om tot ‘n vredesooreenkoms in te stem. Reuters haal drie ingeligte bronne aan wat sê die tydlyn sal waarskynlik verskuif, gegewe daar nog nie ‘n ooreenkoms oor die sleutelkwessie van grondgebied bereik kon word nie. Ingevolge die raamwerk wat deur onderhandelaars bespreek word, sal enige ooreenkoms aan ‘n referendum vir Oekraïnse kiesers onderhewig wees. Hulle sal terselfder tyd aan ‘n nasionale verkleising deelneem.
# En krieket: Indië se kaptein, Suryakumar Yadav, en sy Engelse eweknie, Harry Brook, glo tellings van meer as 300 lopies kan vir die eerste keer in ‘n T20-Wêreldbekerwedstryd gesien word. Die toernooi begin vandag in Indië en Sri Lanka. Yadav en Brook skryf die groot verwagte totale toe aan kleiner velde, vinnige buitevelde en toenemende vreeslose kolfwerk. Die 300-grens is al drie keer in T20-internasionale wedstryde oorskry, maar die hoogste totaal in ‘n Wêreldbekerwedstryd in die 20-boulbeurtformaat was Sri Lanka wat 260 lopies vir ses teen Kenia in 2007 aangeteken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….