Nuus 09:00
BULLETIN 6 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dean Macpherson glo John Steenhuisen sou maklik vir ‘n derde termyn verkies kon word
# TLU SA sê die AGOA-verlenging hou ‘n groot voordeel in vir die land se uitvoerders
# En Donald Trump doen ‘n beroep op die Kongres om die SAVE America-wet goed te keur
# Die DA-voorsitter in KwaZulu-Natal, Dean Macpherson, glo die uittredende leier John Steenhuisen kon maklik nog ‘n termyn wen. Steenhuisen gaan nie by die party se verkiesingskongres in April vir ʼn derde termyn staan nie en sê hy wil op sy rol as minister van Landbou en die stryd teen bek-en-klouseer fokus. Macpherson, wat ook minister van Openbare Werke en Infrastruktuur is, sê Steenhuisen het merkwaardige politieke intuïsie en volwassenheid getoon deur nie vir herverkiesing te staan nie en die volgende geslag toelaat om die DA na die volgende vlak te neem.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom dit dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika met een jaar verleng is. Dit volg terwyl Suid-Afrika voortgaan om met Amerika te onderhandel oor ʼn ooreenkoms om die tarief van 30-persent op invoere uit Suid-Afrika, te verminder. Bennie van Zyl van TLU SA sê die AGOA-verlenging sal baie Suid-Afrikaanse uitvoerders bevoordeel, veral in die voertuig-, vrugte- en wynbedryf:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die finale verslag van die ondersteuningspan vir bestendigheid en bestuur by die Kaapstad Kollege ontvang. Die span is aangestel vir ʼn onafhanklike feitesendingproses na operasionele en bestuursprobleme by die kollege. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê die ingryping gaan oor herstel van orde en om studente se reg op ʼn stabiele en werkende leeromgewing te beskerm:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het ‘n beroep op Republikeine in die kongres gedoen om die SAVE America-wet wat stemvereistes verhoog, goed te keur. Die Huis van Verteenwoordigers het die wet verlede jaar aanvaar. Dit volg nadat die Withuis die president se onlangse versoek om verkiesings te nasionaliseer as onbelangrik afgemaak het. Die perssekretaris van die Withuis, Karoline Leavitt sê president Trump is se hoofdoel met die goedkeuring is om mense wat nie landburgers is nie te verhoed om in verkiesings stem:
# Krieket: Die kaptein van Pakistan, Salman Agha, sê hulle sal regeringsadvies inwin as hulle teen die mede-gasheer, Indië in die uitklopfase van die T20 Wêreldbeker moet speel. Die regering het alreeds toestemming geweier om teen hul aartsvyand in volgende Sondag se groepwedstryd te speel, maar weiering in ‘n uitklopwedstryd sal uitskakeling beteken. Agha besef hulle moet hulle wedstryde teen Namibië, Nederland en Amerika wen en hoop vir goeie weer om die groepfase te oorleef. Pakistan speel al hul wedstryde in Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-558-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-825-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….