Nuus 09:00
BULLETIN 4 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille sê handel en toerisme met Singapoer het versterk
# GOOD sê die uitsluiting van kleiner partye sal nie groter partye keer om swak burgemeesters aan te stel nie
# En Muammar Gaddafi se seun, Saif al-Islam, is in Libië doodgeskiet
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika versterk sy toerisme-groeistrategie deur beleggingsbevordering, verbeterde lugverbindings en visumhervorming, namate die land sy betrokkenheid in belangrike Asiatiese markte verdiep. Die minister het Dinsdag die Singapoer-deel van die departement se Suidoos-Asië-uitreikprogram afgesluit. Verlede jaar het Suid-Afrika ‘n rekord-toeristeseisoen behaal, met 10,48-miljoen internasionale aankomste tussen Januarie en Desember 2025. Hiervan was meer as nege-duisend-827 uit Singapoer. De Lille sê haar besoek het die handels- en toerismesamewerking met Singapoer versterk.
# Die GOOD-party sê die DA se voorstel om ‘n kiesdrempel in te stel om te verhoed dat kleiner partye verteenwoordiging in stadsrade kry, is ‘n aantasting van die Grondwet. Die DA sê die huidige verkiesingsreëls vir munisipale rade het gelei tot ‘n oorvloed kleiner partye, wat ‘n fraksie van die stemme in ‘n munisipaliteit kry en sodoende koningmakers word in die vorming van koalisies. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hierdie voorstel sal inbreuk maak op die regte van burgers om nuwe politieke partye te stig:
# Die algemene nywerheidsvakbond, Giwusa, sê die staat se brandstofprysstelsel beskerm korporatiewe winsmakers in plaas van werkers. In die lig van petrol- en dieselpryse wat die maand daal, waarsku die vakbond dat die verligting tydelik is, deur wêreldwye spekulasie beheer word, terwyl die manier waarop brandstofpryse bepaal word, koste steeds opdryf. Mametlwe Sebei van Giwusa sê die regering moet die beheer oor raffinaderye en die energiesektor oorneem om burgers teen wisselvallige pryse en korporatiewe gierigheid te beskerm:
# Saif al-Islam Gaddafi, seun van die voormalige Libiese leier Muammar Gaddafi, is in Libië doodgeskiet. Die 53-jarige Gaddafi is volgens berigte in sy huis in die stad Zintan vermoor. Saif al-Islam Gaddafi is lank beskou as die invloedrykste en mees gevreesde figuur in die land naas sy pa, wat Libië van 1969 regeer het tot hy in 2011 uit die kussings gelig en vermoor is. Hy het in 2021 aangekondig hy gaan staan vir president, maar die verkiesing is toe onbepaald uitgestel.
# Sokker: Arsenal is ‘n stap nader aan hul eerste groot trofee sedert 2020 nadat hulle Chelsea in die Carabao-beker-halfeindstryd in totaal met 4-2 geklop het. Met ʼn 3-2 voordeel uit die eerste afdeling, is die Gunners in die tweede afdeling getoets, maar Kai Havertz se doel in beseringstyd het die oorwinning vir Mikel Arteta se span verseker. Arsenal kom in volgende maand se eindstryd op Wembley óf teen Manchester City óf Newcastle te staan. Arteta sê hulle verdien ʼn plek in die eindstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-642-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-63-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….