Nuus 09:00
BULLETIN 2 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê hofsake kan die verkryging van bek-en-klouseer-entstowwe ontspoor
# Saftu doen ‘n beroep op die regering om diplomatieke betrekkinge met Israel verder af te skaal
# En netbal: Suid-Afrika behaal ‘n moeilike reeksoorwinning teen Engeland
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, waarsku dat hofsake die dringende verkryging en verspreiding van entstof teen bek-en-klouseer kan ontspoor. Die organisasies Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou het regstappe ingestel om vee-eienaars te magtig om entstof privaat toe te dien. Steenhuisen sê dit is jammer dat hulle die Wet op Dieresiektes met regstappe wil aanval, terwyl dié wet die regering in staat stel om entstowwe te bekom vir die inwerkingstelling van die bek-en-klouseer-program.
# Die vakverbond Saftu vra die regering vir verdere, bepalende stappe om diplomatieke bande met Israel af te skaal. Dit volg nadat die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Israel se Charge d’ Affaires, Ariel Seidman, as persona non grata verklaar het weens vermeende oortredings van diplomatieke norme. In sy reaksie het Israel die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger vir Palestina, Shaun Byneveldt, uitgeskop. Saftu sê die regering moet ook militêre, sekerheid- en handelsamewerking met Israel opskort en sy optrede by die Internasionale Geregshof verskerp.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, waarsku stadige kapitaalbesteding en stygende skuldvlakke kan dienslewering ondermyn indien dit nie gou aangespreek word nie. Hy het verslag gedoen oor die munisipale finansies vir die eerste helfte van die 2025-2026-boekjaar. Maile sê in Desember 2025 het die provinsie se munisipaliteite 165,7-miljard-rand geskuld. Hy sê huishoudings is verantwoordelik vir 73,3-persent, kommersiële instellings vir 23,2-persent en regeringsdepartemente vir drie-persent:
# Die voormalige Britse ambassadeur in Washington, Peter Mandelson, het bedank as lid van die Arbeidersparty en sê hy wil nie die party verder in verleentheid stel nie. Dit volg ná die Amerikaanse Justisiedepartement se jongste vrystelling van Jeffrey Epstein-lêers waarin bankstate besonderhede bevat oor drie geldoorplasings van die pedofiel-finansier aan Mandelson. Hy ontken die bewerings, maar het herhaal dat hy berou het omdat hy Epstein geken het en nog steeds met die omstrede finansier geassosieer word.
# Netbal: Suid-Afrika het Engeland in die derde en laaste toets in Johannesburg met 65-50 verslaan om ‘n swaarverdiende reeksoorwinning van 2–1 te behaal. Die Rose het die eerste toets verloor, maar Saterdag sake gelykop gemaak met ʼn sege van 61-49 en die weg gebaan vir gister se bepalende wedstryd. Engeland en Suid-Afrika is in dieselfde groep van ses spanne vir die komende Statebondspele in Glasgow. Protea-afrigter Jenny van Dyk sê haar spelers se kliniese spel het die reeks beklink:
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-567-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-642-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….