Nuus 09:00
BULLETIN 1 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Africa4Palestine verwelkom die uitsetting van ‘n Israelse gesant
# ‘n Firma verbind met Paul Mashatile se seun is verbied om staatskontrakte aan te gaan
# En in rugbynuus, oorwinnings vir die Haaie en die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Africa4Palestine verwelkom Suid-Afrika se besluit om die Israelse chargé d’affaires, Ariel Seidman, tot persona non grata te verklaar. Die regering sê Seidman se beweerde sosiale media-aanvalle op president Cyril Ramaphosa en sy diplomatieke oortredings regverdig die uitsetting. Die groep se woordvoerder, Alie Komape, het aan SABC News gesê dit moes lankal gebeur het en vra sterker optrede, insluitend die sluiting van die Israelse ambassade. Hy sê die organisasie eis dat die regering alle bande met Israel verbreek:
# Die voorsitter van die parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, het kommer uitgespreek oor die lang vertragings wat eisers sonder regsverteenwoordiging by die Padongelukkefonds ondervind. Zibi het in Parktown, Johannesburg, verwys na die wanfunksionele geïntegreerde eisebestuurstelsel, wat byna een-miljard-rand gekos het. Hy het aan SABC News gesê sommige eise is al ses jaar lank hangende en het dringende oplossings gevra om die ondersteuning vir ongelukslagoffers te verbeter:
# ‘n Maatskappy wat verbind word met adjunkpresident Paul Mashatile se seun, Thabiso Mashatile, is van die regering se Sentrale Verskafferdatabasis verwyder, wat dit van toekomstige werk vir die staat blokkeer. Volgens MDN News is Modipadi Nokaneng, wat nou handel dryf as 0711 Stuttgart, verwyder as gevolg van voldoeningskwessies, insluitend onbetaalde BTW van na bewering drie-miljoen-rand en onopgeloste arbeidsgeskille rakende skikkings aan afgedankte personeel. Die firma het voorheen multi-miljoen-rand se kontrakte van Gauteng Gesondheid verkry.
# ‘n Bondgenoot van die Indiese premier Narendra Modi het ‘n wetsontwerp voorgestel om sosiale media vir kinders te verbied, met die wêreld se grootste mark vir Meta en YouTube wat nou ook deelneem aan ‘n wêreldwye debat oor die uitwerking van sosiale media op jongmense se gesondheid en veiligheid. Australië het verlede maand die eerste land geword wat sosiale media vir kinders onder 16 verbied het. Frankryk se Nasionale Vergadering het hierdie week wetgewing gesteun om kinders onder 15 te verbied, terwyl Brittanje, Denemarke en Griekeland ook die kwessie bestudeer.
# Rugby: Die Bulle het hul bure, die Leeus, Saterdag op Ellispark met 52-17 vermorsel, in ‘n eensydige Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd. Die Bulle het vroeër in die seisoen met 43-33 tuis teen die Leeus verloor, maar het die rolle in die VRK-herontmoeting sonder veel moeite omgekeer. Die Bulle was rustyd met 26-3 voor, maar spyte van ‘n verbeterde poging in die vroeë stadiums van die tweede helfte, kon die Leeus nie die agterstand inhaal nie. Die Bulle het agt keer agter die pale gaan kuier met ses daarvan verdoel, teenoor die Leeus se twee verdoelde drieë en ‘n strafskop.
Die Haaie het intussen in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kusderby op Kingspark in Durban die Stormers met 36-24 geklop. Die gashere het vyf drieë aangeteken, vir ‘n bonuspunt-oorwinning. Dit is die Haaie se tweede oorwinning oor die Stormers in twee weke, nadat hulle verlede naweek met 30-19 in Kaapstad gewen het. Die Stormers was teen rustyd met 17-14 voor en was vroeg in die tweede helfte weer voor met 24-14 maar die Haaie het gou beheer herwin. Die Stormers se swak dissipline het gelei tot geel kaarte vir Paul de Villiers en Ruben van Heerden.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….