Nuus 09:00
BULLETIN 31 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op vinniger infrastruktuurontwikkeling regoor Afrika
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê daar moet in 2026 op die bevordering van vaste beleggings gefokus word
# En rugby: Die Haaie en Stormers berei voor vir ’n verbete herontmoeting in Durban
# President Cyril Ramaphosa sê die Presidensiële Infrastruktuur Kampvegtersinisiatief sal pogings in 2026 verskerp om ontwikkeling regoor die vasteland te versnel. Ramaphosa het infrastruktuur as ‘n katalisator vir ekonomiese groei beskryf tydens die eerste vergadering oor die inisiatief deur staatshoofde en regeringshoofde. Die president het beklemtoon dat Afrika sy bruto binnelandse produk teen 2040 kan verdubbel met verhoogde beleggings. Ramaphosa het verwys na vordering met projekte soos die Trans-Sahara-snelweg en veselverbindings. Hy sê sterker politieke leierskap en innoverende finansiering is nodig om Afrika se finansieringstekort aan te vul.
# United Africans Transformation het belowe om saam die jeug en werkers teen ekonomiese uitsluiting te staan. Die party voer aan dat Swart Ekonomiese Bemagtiging gekaap is om ‘n klein, polities-verbonde elite te verryk, wat miljoene Suid-Afrikaners werkloos en in armoede vasvang. Tsakane Manganyi van UAT doen ‘n beroep op ‘n volledige SEB en verkrygingshersiening, meriete-gebaseerde geleenthede en sterker ondersteuning vir die jeug, kleinondernemings en werkers, om werklike ekonomiese transformasie te verseker:
# Die Stad Johannesburg se raadgewer oor spesiale projekte in die Stadsbestuurderskantoor, Mesuli Mlandu, het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die voormalige burgemeester Herman Mashaba, het na bewering die geskorste adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya onwettig aangestel. Mlandu beweer Sibiya het formele werwing omseil, vals titels gehad en onreëlmatige uitgawes van ongeveer 580-miljoen-rand moontlik gemaak. Hy vra vir verantwoordbaarheid en regstappe om korrupsie in Sibiya se omstrede ampstermyn binne die stad se forensiese dienste te hanteer:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se Nuwejaarsvoorneme moet wees om vaste beleggings te verbeter. Die jongste First National Bank/BER Siviele Konstruksie-opname toon toenemende vertroue in infrastruktuur, met meer as die helfte van kontrakteurs wat tevrede is met die huidige sakeomstandighede en die verbetering in werksgeleenthede. Regeringsbesteding aan infrastruktuur bly egter laag, en vertragings, misdaad en korrupsie is steeds uitdagings vir die sektor. Die buro sê vinniger hervormings en beter stelsels is nodig om groeiende vertroue vanjaar in werklike beleggings en werkskepping te omskep.
# President Donald Trump het die konserwatiewe ekonoom Kevin Warsh as die nuwe voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad benoem. Die 55-jarige het van 2006 tot 2011 as ‘n Federale goewerneur gedien en is ‘n uitgesproke kritikus van die sentrale bank. Volgens die BBC word Trump se keuse blykbaar deur beide die president en beleggers verwelkom. Die sentrale bank is onder politieke druk deur die Withuis oor hoe rentekoerse bepaal word. Trump se benoeming van ‘n opvolger vir Jerome Powell word geruime tyd reeds verwag. Hy het Powell gereeld gekritiseer omdat hy rentekoerse nie vinniger verlaag het nie.
# En rugby: Die Haaie pak vanmiddag die Stormers in nog ‘n spannende Verenigde Rugbykampioenskap-derby in Durban en hoop om verlede naweek se onverwagte oorwinning in Kaapstad te herhaal. Die Durbanse span het die Stormers se onoorwonne rekord na ‘n verbete stryd met 30-19 tot ‘n einde gebring. Die Springbok-vleuel Edwill van der Merwe en skrumskakel Grant Williams is albei terug in die beginspan. Die Stormers se sleutelvoorspelers Evan Roos en Adré Smith is ook terug. Intussen sal die Leeus die Bulle om 14:30 in die ‘Jukskei’-derby op Ellispark in Johannesburg takel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….