Nuus 09:00
BULLETIN 19 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile vra vir samewerking om regeringsinfrastruktuur te beskerm en in stand te hou
# Die DA ondersteun die Tesourie se besluit om die wet af te dwing in wanpresterende munisipaliteite
# En Gemengde Gevegskuns: Dricus du Plessis oorweldig Kamaru Usman
# Adjunkpresident Paul Mashatile het alle Suid-Afrikaners en belanghebbendes gevra om saam te werk om die regering se openbare infrastruktuur te beskerm en in stand te hou. Hy sê die beskerming van bestaande fasiliteite teen vandalisme en verwaarlosing is net so krities soos die bou van nuwe instellings. Gemeenskapseienaarskap is belangrik om volhoubare dienslewering te verseker. Mashatile sê die regering het ook die Waterdiens-infrastruktuurstoelaag ingestel om plaaslike waterkwessies aan te pak, infrastruktuur-agterstande te verminder en water- en sanitasiedienste in landelike en onderbediende gebiede te verbeter.
# Die DA steun die Nasionale Tesourie se besluit om die wet af te dwing in 69 munisipaliteite regoor die land wat nie aan die vereistes voldoen nie. In net meer as twee weke het 42 munisipaliteite voldoen aan die Nasionale Tesourie se gevolgebestuurstoepassing en sal binnekort hul befondsingstoekennings vir Julie ontvang. Die DA-lid, Marina van Zyl, sê die vinnige ommeswaai in die toepassing van gevolgebestuur bewys die Tesourie was reg was om hierdie roete te volg:
# Eskom handhaaf ‘n energie-oorskot en hou gereeld ses-duisend megawatt in reserwe. Dit is te danke aan oortollige kapasiteit, wat verdere versekering bied dat die kragstelsel aan die vraag kan voldoen. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê diesel is oordeelkundig ingespan gedurende spitstye en om die vereiste reserwes te handhaaf, in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Netwerkkode. Sy sê Eskom het tot dusver hierdie boekjaar 807,4-miljoen-rand aan diesel bestee, terwyl die gasturbines teen ‘n lasfaktor van 1,22-persent bedryf is:
# Die Departement van Binnelandse Sake vra kwalifiserende egpare om hul gebruiklike huwelike te registreer voor die spesiale registrasietydperk aan die einde van die maand sluit. Die minister van Binnelandse Sake het die spesiale registrasievenster van 1 September 2024 tot 31 Augustus vanjaar ingestel om egpare toe te laat om hul huwelikstatus te bevestig. Die departement waarsku om nie tot op die nippertjie te wag nie, en sê ‘n stormloop kan lei tot lang toue en vertragings by sy kantore.
# En ten slotte, sportnuus:
# Gemengde Gevegskuns: Die voormalige middelgewigkampioen Dricus du Plessis het vroeër vanoggend ‘n indrukwekkende oorwinning oor Kamaru Usman in Oklahoma City behaal. Beide vegters het na die UFC-kryt teruggekeer nadat hulle byna ‘n volle jaar se aksie misgeloop het. Die eenparige punte-besluit plaas Du Plessis weer op koers nadat hy sy UFC-titel in Augustus 2025 aan Khamzat Chimaev afgestaan het. Du Plessis het die huidige kampioen, Sean Strickland, twee keer gewen en hy hoop die Usman-oorwinning sal as oorweging dien vir nog ‘n titelgeveg. Dit was Usman se vierde nederlaag in vyf gevegte.
# En sokker: Engeland het hul 2026 Fifa Wêreldbeker-veldtog op ‘n hoogtepunt afgesluit nadat hulle gister Frankryk met 6-4 op die Miami-stadion verslaan het. Dit was Engeland se beste Wêreldbeker-eindstryd sedert hulle die toernooi 60 jaar gelede in 1966 gewen het. Die Franse kaptein, Kylian Mbappé, het die topdoelskieter in Wêreldbeker-geskiedenis geword toe sy tweede doel in die wedstryd sy totaal op 22 te staan gebring het, een beter as Argentinië se Lionel Messi. Mbappé, wat tien doele in die toernooi aangeteken het, is nou deel van ‘n eksklusiewe groep wat dubbelsyfers in ‘n enkele Wêreldbeker kon aanteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….