Nuus 09:00
BULLETIN 24 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê die regering ondersteun 9,2-miljoen maatskaplike toelae-begunstigdes
# Eskom behaal steeds beduidende sukses met die Opwekkingsherstelplan
# En krieket: Die Proteas is bekommerd oor Miller se fiksheid voor die T20 Wêreldbeker
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die regering gaan voort om kwesbare huishoudings te ondersteun deur by te dra tot armoede- en ongelykheidvermindering deur die administrasie van maatskaplike toelaes deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid. Ramokgopa het besonderhede verskaf oor die regering se prestasie teenoor die Mediumtermyn-Ontwikkelingsplan in die 2024 tot 2029-boekjare. Die minister sê die prestasie word getoon in die uitbetaling van 9,2-miljoen maatskaplike toelaes aan begunstigdes, wat ‘n kritieke maatskaplike veiligheidsnet bied:
# Die Energiereguleerder, Nersa, sê sy tribunaalmagte is nou in werking en hy gaan nie enige wanbetalers in die elektrisiteitsektor duld nie. Vyf munisipaliteite, insluitend Saldanhabaai in die Wes-Kaap, Ekurhuleni in Gauteng en Rustenburg in Noordwes, het wanbetalingsbevele ontvang en moet binne twee maande voldoen, of boetes van tot twee-miljoen-rand per dag opgelê word. Nersa-woordvoerder Charles Hlebela sê hierdie stap verseker veilige, betroubare en wettige elektrisiteitsvoorsiening:
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig, versterk deur toenemende beskikbaarheid van aanlegte en ‘n volgehoue vermindering in onbeplande onderbrekings. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Eskom het 2026 begin met ‘n merkbaar sterker en meer bestendige kragstelsel as die vorige vyf jaar. Sy sê hierdie herstel weerspieël die volgehoue uitwerking van Eskom se Opwekkingsherstelplan, wat voortgaan om bedrywighede en langtermyn-energiesekerheid te versterk:
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op Gauteng-regeringsinstellings om veiligheidspersoneel wat tans virdie Mafoko-sekuriteitsmaatskappy werk, intern aan te stel. Die vakbond sê salarisse is gereeld laat, wat gesinne onder finansiële druk plaas, terwyl die amptenare noodsaaklike dienste lewer wat personeel, studente en infrastruktuur beskerm. Stefan Viljoen van die vakbond sê interne aanstellings sal billike betaling, werksekerheid en beter werksomstandighede verseker, terwyl die regering geld sal bespaar.
# Sportnuus:
# Krieket: Die Proteas is bekommerd oor die fiksheid van die kolwer David Miller voor die T20-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka, nadat hulle reeds die dienste van Tony de Zorzi en Donovan Ferreira verloor het. Die kaptein van die Paarl Royals is hierdie week tydens die SA20 beseer, en Krieket Suid-Afrika het besluit om hom nie vir die komende T20-reeks teen die Windies te oorweeg nie. Die beseerde De Zorzi en Ferreira is in die Wêreldbeker-groep vervang deur Ryan Rickelton en Tristan Stubbs. Die toernooi begin op 7 Februarie.
# En motorsport: Formule Een-kampioen Lando Norris het nog nie weer op video gekyk na die wedren waarin hy die titel verower het nie, maar die McLaren-jaer begin die nuwe seisoen met meer selfvertroue op soek na ‘n tweede kroon. Norris het verlede seisoen sewe wedrenne gewen, een minder as Red Bull se viermalige kampioen, Max Verstappen. Hy het Verstappen met twee punte geklop in die stryd om die titel in die Abu Dhabi Grand Prix. Die 26-jarige Brit sal op 8 Maart by die Australiese Grand Prix in Melbourne vir die eerste meer met die nommer een op sy motor wegspring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….