Nuus 09:00
BULLETIN 23 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê ons moet eerlik wees oor ‘n nie-belynde buitelandse beleid
# TikTok het sy meerderheidsbelang in sy Amerikaanse bedrywighede aan Trump-goedgekeurde beleggers verkoop
# En rugby: Van der Merwe en Schoeman sal vanaand teen hul voormalige Bul-spanmaats in Edinburgh te staan kom
# Die DA-leier John Steenhuisen sê vertroue bestaan dat alle partye in die regering van nasionale eenheid deur konsensus en kompromie ‘n standpunt oor buitelandse beleid sal bereik. Die land se buitelandse beleid het in die kollig beland oor Iran se rol in die onlangse BRICS-vlootoefening in Simonstad waarby China en Rusland ook betrokke was. Steenhuisen sê dis belangrik dat die land eerlik is oor sy nie-belynde standpunt, sonder enige lojaliteite uit die verlede. Hy sê ʼn dringende kabinet-lekgotla moet plaasvind om die rigting van die land se buitelandse beleid te bepaal.
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verwelkom die aanstelling van Dinkie Portia Dube as die Openbare Beskermer se nuwe adjunk. Die posisie het beskikbaar geraak nadat Kholeka Gcaleka as Openbare Beskermer aangestel is. Die departement se woordvoerder, Samuel Modipane, sê Dube se aanstelling sal die Openbare Beskermer se kantoor se doeltreffendheid om sy grondwetlike mandaat te vervul, verbeter:
# Die ANC in Ekurhuleni verwelkom die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat Nersa die elektrisiteitstariewe moet hersien wat in 2024/2025 in die Stad Johannesburg, Ekurhuleni, Madibeng-munisipaliteit in Brits, en Msunduzi in Pietermaritzburg gehef is. Dit volg nadat die hof in November bevind het die tariewe is onregmatig. Jongizizwe Dlabathi van die ANC sê dit bring aansienlike verligting vir Ekurhuleni-inwoners wat aanhoudend kommer uitgespreek het oor die bekostigbaarheid, deursigtigheid en regverdigheid van elektrisiteitstariewe:
# TikTok het sy meerderheidsaandeel in Amerika verkoop om moontlike verbanning uit die land vry te spring. Die baie gewilde kort-video toepassing het gevaar geloop om in Amerika verban te word as sy Chinese eienaar ByteDance nie sy operasies in die land aan Amerikaanse beleggers verkoop nie. Groot beleggers, insluitend Oracle, Silver Lake en MGX sal nou die nuwe gesamentlike TikTok-onderneming bestuur. Die maatskappy sê die nuwe weergawe sal onder bepaalde veiligheidsmaatreëls opereer wat nasionale veiligheid sal beskerm met omvattende data-beskerming, algoritme-veiligheid en gematigde inhoud.
# Rugby: Edinburgh het sy span versterk met die terugkeer van die Skotse internasionale spelers, Duhan van der Merwe en Pierre Schoeman vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Bulle op die Hive-stadion. Afrigter Sean Everitt het sewe veranderinge aangebring aan die span wat verlede naweek met 63-10 teen Bath verloor het, maar hoop om hulle onoorwonne tuisrekord vir die seisoen te verbeter. Van der Merwe en Schoeman het albei voorheen vir die Bulle gespeel. Van der Merwe keer terug na ‘n besering terwyl Schoeman en ander eerstekeuse-spelers verlede naweek gerus het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-853-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-952-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….