Nuus 09:00
BULLETIN 20 Januarie 9 v
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bevraagteken ‘n aanstelling op die toerismeraad deur minister De Lille
# Die IVP eis aanspreeklikheid na die dodelike Vanderbijlpark-ongeluk
# En die Italiaanse modeontwerper Valentino is op 93 oorlede
# Die DA sê die aanstelling van Khomotso Brian Mosehla op die Suid-Afrikaanse Toerismeraad wek ernstige kommer oor die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se verbintenis tot behoorlike regering. Haseena Ismail van die DA sê Mosehla was voorheen ‘n bemagtigingsvennoot van Cash Paymaster Services, die maatskappy wat in 2012 onwettig die maatskaplike toelae-kontrak van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap ontvang het. Ismail sê die aanstelling volg ná ‘n reeks besluite wat reeds die geloofwaardigheid van SA Toerisme ondermyn het:
Die Internasionale Monetêre Fonds beraam dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met 1,4-persent kan groei, wat ‘n geringe opwaartse hersiening is van vorige vooruitskattings van 1,2-persent, met ‘n berperkte styging tot 1,5-persent in 2027. Die vooruitsig plaas die land in ‘n swakker posisie as ontluikende markte. Die IMF sê in sy jongste Wêreldekonomiese Vooruitsig Suid-Afrika se trae ekonomiese herstel bly kwesbaar vir wêreldwye opskuddings, beleidsonsekerheid en langdurige strukturele beperkings. Die IMF verwag die wêreldekonomie sal vanjaar met 3,3-persent groei.
# Die IVP vra ‘n dringende, omvattende ondersoek na gister se noodlottige botsing in Vanderbijlpark, Gauteng, tussen ʼn minibus wat leerders vervoer het en ʼn vragmotor. Die minibusbestuurder het probeer om talle voertuie verby te steek voor hy reg van voor teen ʼn vragmotor gebots het. Veertien leerders is dood. ʼn IVP-woordvoerder, Nhlanhla Hadebe, sê voertuigeienaars, operateurs en vervoermaatskappye moet aanspreeklik gehou word waar nalatigheid, oorlading of nienakoming ter sprake is:
# Sokker: Die sokkerbeheerliggaam CAF het gepaste optrede belowe ná die chaos tydens die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi Sondag in Marokko. Lede van Senegal se span het die veld verlaat nadat die skeidsregter ‘n strafskop aan die gasheer toegeken het. Die span het eers na 20 minute teruggekeer en uiteindelik, in ekstra tyd, met 1-0 gewen. Die president van die wêreldbeheerliggaam FIFA, Giovanni Infantino, veroordeel ook die voorval en sê spanne moet op die veld en binne die reëls meeding, want enigiets anders plaas die gees van die spel in gevaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-139-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-685-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-52-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Italiaanse modelegende en -magnaat Valentino Garavani is oorlede. Hy was 93. Garavani het in 1960 sy modehuis onder sy voornaam, Valentino, gestig en die kenmerkende “Valentino-rooi” as kleur gekies wat sy handelsmerk wêrelwyd gewild gemaak het. Hy was bekend vir sy klere-ontwerpe vir die bekendste vroue ter wêreld het – van Prinses Diana tot Audrey Hepburn, Meryl Streep, Oprah Winfrey en Gwyneth Paltrow. Valentino sal môre en Donderdag by Rome se Piazza Mignanelli in staatsie lê. Sy begrafnis vind Vrydag plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….