Nuus 09:00
BULLETIN 14 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola sê Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate het hulle verbind tot ‘n belegging van 10-miljoen-rand
# Die voormalige nasionale polisiekommissaris Phahlane sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn
# En skole in dele van Limpopo sal nie heropen nie weens ernstige oorstromings
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika het bilaterale betrekkinge met die Verenigde Arabiese Emirate versterk oor kwessies soos handel, energie en telekommunikasie. Hy was deel van die afvaardiging wat president Cyril Ramaphosa vergesel het op ‘n tweedaagse werksbesoek aan die VAE. Lamola sê die twee lande het ooreengekom op beleggings van tien-miljard-rand wat ontsluit moet word deur ooreenkomste wat nog onderhandel word:
# Die Nasionale Tesourie verwelkom Suid-Afrika en vyf ander Afrikalande se verwydering van die Europese Unie se lys hoërisiko-derdewêreldlande. Dit volg nadat die land van die Finansiële Aksietaakspan se gryslys verwyder is. Die taakspan is ‘n organisasie wat fokus op die voorkoming van geldwassery en bekamping van finansiering aan terrorisme. Die Tesourie sê al is Suid-Afrika van die twee lyste verwyder, moet baie werk gedoen word om tekortkominge in die voorkoming, identifikasie, ondersoek en vervolging van geldwassery en finansiering aan terrorisme aan te spreek.
# Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn wat aangestel is om bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel te ondersoek. In sy beëdigde verklaring verwys Phahlane na sy tyd as nasionale polisiekommissaris, en sê onder andere dat die voormalige polisieminister Fikile Mbalula geen magtiging gehad het om hom in 2017 te beveel om te bedank nie. Die komitee is op sy tweede en laaste verlenging, wat op 20 Februarie verstryk.
# Die Limpopo Onderwysdepartement sê skole in die Vhembe- en Mopani-distrikte sal nie vandag heropen nie, weens gure weerstoestande wat wydverspreide oorstromings veroorsaak het. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 9-weerwaarskuwing vir vandag uitgereik. Die departement se woordvoerder, Mike Maringa, sê die oorstromings het voedselaflewering aan skole ontwrig en sal waarskynlik skoolvervoer ook beïnvloed, veral vir leerders wat lang afstande aflê:
# Sokker: Die gewese speler, Michael Carrick, is tot die einde van die seisoen as Manchester United se waarnemende hoofafrigter aangestel. Dit volg nadat Ruben Amorim die span op 5 Januarie ná 14 maande verlaat het. Die 44-jarige Carrick was vir drie wedstryde United se tydelike afrigter nadat Ole Gunnar Solskjaer in 2021 afgedank is. Carrick, wie se eerste wedstryd as hoofafrigter Saterdag teen Manchester City is, sê dis ʼn eer om United te lei:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-677-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-628-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….