Nuus 09:00
BULLETIN 13 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers keur ‘n driejaar-AGOA-hernuwing goed
# ActionSA sê die ‘regte’ matriekslaagsyfer vertel ‘n ontnugterende storie
# En die VF Plus dien ‘n klag in oor die DA se veldtog in Tshwane
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het toestemming verleen dat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika met drie jaar verleng word. Die ooreenkoms wat voorsiening maak dat die vasteland goedere belastingvry na Amerika uitvoer, het einde September verstryk. Die wetsontwerp om AGOA te verleng, bevat geen verwysing na Suid-Afrika nie, al is dié land een van die grootste begunstigdes van die handelsooreenkoms van byna 26 jaar. Die Amerikaanse senaat moet nog die finale wetsontwerp goedkeur en president Donald Trump moet dit bekragtig.
# Build One South Africa sê die algehele slaagsyfer van 88-persent vir die matrieks van 2025 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens is misleidend. Die slaagsyfer is ietwat van ‘n verbetering van die 2024-jaargroep, wat 87,3-persent behaal het. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die werklike matriekslaagsyfer is ‘n baie laer 54,7-persent, wat ‘n onderwysstelsel weerspieël wat jongmense se toekoms in gevaar stel:
# ActionSA het intussen die Klas van 2025 wat die Nasionale Senior Sertifikaat voltooi het, gelukgewens maar sê die slaagsyfer in die hoofopskrifte weerspieël nie die ware prestasie van Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel nie. Die slaagsyfer is 88-persent, wat die hoogste in die land se geskiedenis is. Lerato Ngobeni van ActionSA sê indien die 1,14-miljoen leerders bygetel word wat sedert graad 10 in 2023 skool verlaat het, daal die slaagsyfer tot 57,7-persent:
# Die Vryheidsfront Plus in die Groter Pretoria-streek het ‘n amptelike klag teen DA-verteenwoordigers by die munisipale partyskakelkomitee ingedien. Die party voer aan die DA-verteenwoordigers versprei leuens in aanloop tot die komende tussenverkiesing in Wyk 57. Die DA beweer glo dat indien die VF Plus-kandidaat, Wesley Jacobs, wen, beteken dit eintlik die ANC wen. Grandi Theunissen van die VF Plus sê dit kom neer op ʼn ernstige skending van die verkiesingsgedragskode:
# Sokker: Real Madrid en sy hoofafrigter, Xabi Alonso, se paaie het na sewe maande geskei. Dit volg na Madrid se 3-2-nederlaag Sondag teen Barcelona in die Spaanse Superbeker-eindstryd in Saoedi-Arabië. Alonso het voor Kersfees onder skoot gekom nadat sy span slegs twee uit agt wedstryde kon wen. Álvaro Arbeloa, wat sedert Junie 2025 die reserwespan se afrigter is, is aangewys as Alonso se plaasvervanger. Madrid is tweede op die LaLiga-ranglys en vier punte agter die leiers, Barcelona.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-354-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-597-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….