Nuus 09:00
BULLETIN 11 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê grondhervorming bly een van dringendste take van die nasionale demokratiese rewolusie
# Die Weerdiens reik ‘n vlak 6-waarskuwing uit vir die noordelike en oostelike dele van Suid-Afrika
# En rugby: die Leeus behaal bonuspunt-oorwinning oor Lyons in ‘n deurslaggewende Uitdaagbeker-ontmoeting
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê grondhervorming in Suid-Afrika bly een van die dringendste take van die nasionale demokratiese rewolusie. Ramaphosa het die 8 Januarie-verklaring gelewer tydens die ANC se 114de viering in Moruleng in Noordwes. Hy sê sleuteltake sluit in sterker steun vir die begunstigdes van grondhervorming, vinniger verwerking van uitstaande grondherstel-eise en meer doeltreffende beslegting van geskille:
Ramaphosa het ook die uitgesproke minderheid veroordeel, wat leuens versprei om Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie te ondermyn. Ramaphosa het gewaarsku teen bewerings soos sogenaamde wit volksmoord. Hy sê dit vuur wêreldwye rassistiese agendas aan. Ramaphosa sê die magte is daarop gemik om die staat te destabiliseer. Hy het Suid-Afrikaners versoek om te verenig, die Grondwet te verdedig en intimidasie tuis en in die buiteland te verwerp:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n laagdrukstelsel oor die suidelike dele van Mosambiek, sal na verwagting van vandag af weerstoestande oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika aansienlik beïnvloed. ‘n Vlak 6-weerwaarskuwing is uitgereik vir Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. Voorspeller Lehlohonolo Thobela sê die verwagte uitwerking van die stelsel sluit in oorstromings wat kan lei tot skade aan infrastruktuur en nedersettings, asook die gevaar van beserings en lewensverlies:
# Die Gauteng-polisie sê twee motors wat vermoedelik vir ontsnapping gebruik is na ‘n transito-rooftog gister in Roodepoort, is kort na die rooftog by ‘n huis in Meadowlands, Soweto, gevind. Polisiewoordvoerder Mavela Masondo kon bevestig die wit BMW en Nissan-bakkie is onderskeidelik in Gauteng en Noordwes gekaap. Hy sê ‘n groep verdagtes het ‘n gepantserde transito-voertuig beroof en van die toneel gevlug met ‘n onbekende bedrag in kontant:
# Die DA sê hulle sal voortgaan om eerlikheid, deursigtigheid en verantwoordbaarheid te eis oor die vlootskepe wat aan die Will for Peace 2026-oefening deelneem in Simonstad in die Wes-Kaap. Die party sê die Departement van Verdediging misbruik die BRICS-alliansie om militêre belyning te verberg. Chris Hattingh van die DA sê BRICS is nie ‘n militêre alliansie nie en die regering kies nouer militêre bande met skurkstate waarteen strafmaatreëls ingestel is soos Rusland en Iran:
# En rugby: Die Leeus het ‘n deurslaggewende bonuspunt-oorwinning van 42-33 oor Lyon behaal in hul Uitdaagbeker-ontmoeting in Johannesburg. Die gashere het ses drieë gedruk teenoor vyf deur die Franse span. Die Leeus was rustyd 28-14 voor, maar danksy ‘n terugvegpoging was Lyon laat in die tweede helfte met slegs twee punte agter. Die oorwinning is beklink deur ‘n drie deur plaasvervanger-haker Morné Brandon in die 78ste minuut. Die Leeus het hul nou eerste punte en hoop steeds om die uitspeelrondes te haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….