Nuus 09:00
BULLETIN 6 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe word gekritiseer omdat hy sê Suid-Afrikaners is te afhanklik van die regering
# Die Padvragvereniging is versigtig optimisties aangesien 2026 met ‘n brandstofprysverlaging begin
# En sokker: Egipte en Nigerië is deur na die AFCON-kwarteindronde
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, word gekritiseer ná sy opmerking dat Suid-Afrikaners te afhanklik van die staat geword het. Mantashe het in ‘n onderhoud met die SABC gesê die ANC-regering se beleid het traagheid bevorder waar landsburgers verwag die regering moet hul probleme oplos. Hy sê groter burgerlike deelname behoort die land te help om sy potensiaal te bereik:
# Die Padvragvereniging is bemoedig deur die onlangse aankondiging dat basiese brandstofpryse daal en sê hy is optimisties dat hierdie neiging deur die jaar sal voortduur. Van môre af kos petrol tussen 62- en 66-sent per liter minder terwyl die dieselprys met tussen 137- en 150-sent per liter daal. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die daling beteken ʼn blaaskans vir die vervoersektor en makro finansiële druk sal ook verlig word:
# Die GOOD-party het die Arbeidshof se beslissing verwelkom dat raadslid Wesley Neumann weer as hoof van Hoërskool Heathfield in Kaapstad aangestel word. Waarnemende regter De Kock het Neumann se afdanking tersyde gestel en met ʼn finale skriftelike waarskuwing vervang. Die saak hou verband met die eerste Covid-19-vlaag in 2020, toe Neumann weens toenemende kommer oor veiligheid geweier om skole te heropen. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die saak is ʼn aanklag teen die Wes-Kaapse Onderwysdepartement:
# ‘n Hof in Parys het Maandag 10 mense skuldig bevind aan kuberteistering van die Franse presidentsvrou, Brigitte Macron, na vals berigte dat sy ‘n transgender vrou is wat as ‘n man gebore is. Brigitte en haar man, die Franse president, Emmanuel Macron, beveg al lankal die saak, insluitend bewerings dat sy onder die naam Jean-Michel Trogneux gebore is, wat haar ouer broer se naam is. Maandag se uitspraak is ‘n oorwinning vir die Macrons wat gewikkel is in ‘n aparte hoëprofiel-Amerikaanse laster-geding teen die regsgesinde beïnvloeder en podsender Candace Owens, oor soortgelyke bewerings.
# Sokker: Die sewemalige kampioene, Egipte, het hul plek in die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi bespreek toe hulle Benin met 3-1 in ekstra tyd geklop het ná ‘n gelykoptelling van een elk ná 90 minute. Een van Egipte se twee doele in ekstra tyd is deur hul sterspeler, Mohamed Salah, aangeteken wat die Farao’s opgestel het vir ‘n kragmeting met die wenner van vandag se wedstryd tussen Ivoorkus en Burkina Faso. Nigerië het Mosambiek intussen met 4-0 oorrompel om na die kwarteindronde deur te dring en sal volgende teen óf Algerië óf die Demokratiese Republiek die Kongo te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33 sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-14 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-en-820 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-465 dollar 15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-45-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….