Nuus 09:00
BULLETIN 5 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nicolás Maduro en sy vrou sal vandag vir die eerste keer in ’n hof in New York verskyn
# Cosatu sê die aanval op Venezuela is ‘n regstreekse aanval op die regte en soewereiniteit van alle mense
# En die Gautengse Verkeerspolisie verskerp sy optrede
# Die Venezolaanse president Nicolás Maduro en sy vrou Cilia Flores sal vandag in ‘n federale hof in Manhattan in New York verskyn. Dit volg nadat hulle Saterdag deur die VSA gevange geneem is. Die paartjie is onder ses beskuldigdes wat daarvan beskuldig word dat hulle die afgelope 25 jaar met gewelddadige, gevaarlike dwelmsmokkelaars saamgesweer het. President Donald Trump sê die saak is onfeilbaar en het die Amerikaanse distriksregter Alvin K. Hellerstein, wat toesig hou oor die saak, hoog aangeslaan.
Die vakverbond Cosatu sê intussen Amerika se aanval op Venezuela is ‘n regstreekse aanval op die regte en soewereiniteit van alle mense, veral in die Globale Suide. Cosatu se internasionale sekretaris, Bongani Masuku, sê Amerika skend internasionale reg, multi-lateralisme en die beginsel van state se gelykheid, en vra beslissende optrede van die internasionale gemeenskap:
# Die voorsitter van die EFF se Groter Taung-substreek, Tebogo Babuile, het ondersteuners aangespoor om bankvas agter hulle partyleier Julius Malema te staan in aanloop tot sy voorvonnisverhoor in die Oos-Londense Landdroshof op 23 Januarie 2026. Malema is op verskeie vuurwapenverwante aanklagte skuldig bevind wat voortspruit uit ‘n EFF-betoging in Mdantsane, Oos-Kaap, in 2018. Babuile sê Malema kan nie alleen die imperialistiese magte trotseer nie:
# Die Gautengse Verkeerspolisie, in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe, het padveiligheidsoperasies verskerp. Dit kom namate die feestyd tot ‘n einde kom, en die meeste mense na verwagting in die komende dae na die provinsie sal terugkeer. Verkeerswoordvoerder, Sello Maremane, sê wetstoepassingsagentskappe het patrollies, padversperrings en hoësigbaarheidsoperasies verskerp om roekelose gedrag te bekamp, padongelukke te voorkom en sterftes te verminder:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, het bande met die Vereniging vir Beroeptennisspelers verbreek. Hy het dié spelersvereniging in 2021 saam met die Kanadese speler, Vasek Pospisil, gestig. Die 38-jarige Serwiër sê hy het die besluit geneem na kommer oor deursigtigheid, bestuur en die manier waarop sy stem en beeld weergegee word. Die vereniging het in Maart verlede jaar regsgedinge teen die sportbeheerliggame ingestel en beskuldig die organisasies van sistemiese misbruik, teenmededingende praktyke en ʼn blatante miskenning van spelers se welstand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-879-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….