Nuus 09:00
BULLETIN 16 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verskerp sy optrede teen onwettige immigrasie
# SAFTU verwelkom die besluit om appèl toe te staan in die Omotoso-saak
# En die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verwerp ‘n wysiging om miljarde se hulp aan Israel af te skaf
# Die polisie het die afgelope 14 dae agt-duisend-896 immigrante landswyd in hegtenis geneem vir oortreding van die Immigrasiewet in ‘n versterkte poging om die wet af te dwing. Van hierdie individue staar ook bykomende klagte in die gesig. Dit sluit in ernstige en geweldsmisdaad, insluitend moord, verkragting en die besit van ‘n onwettige vuurwapen. In Gauteng alleen is meer as 800 ongedokumenteerde vreemdelinge in hegtenis geneem. Die woordvoerder van die polisie, Amanda van Wyk, sê die regering is vasbeslote om landswyd beslissend teen onwettige immigrasie en verwante misdade op te tree:
# Die vakbondfederasie SAFTU het die Appèlhof se besluit verwelkom wat die Nasionale Vervolgingsgesag toelaat om teen die vryspreking van die selfverklaarde Nigeriese pastoor Timothy Omotoso en sy medebeskuldigdes te appelleer. Omotso is in Mei verlede jaar as ongewenste persoon in Suid-Afrika verklaar en hy is vir vyf jaar verban. Dit het gevolg nadat hy vrygespreek is op vele aanklagte van seksuele aanranding en mensehandel. Asive Dyani van SAFTU sê die besluit is een van die bemoedigendste ontwikkelings in die stafregregstelsel die afgelope maande:
# Wydverspreide veldbrande het gister kragonderbrekings in die sentrale en oostelike voorstede van Johannesburg en Midrand veroorsaak. Die vuur het ook onder hoëspanning-kragdrade gebrand, en veroorsaak dat ‘n belangrike substasie in die oostelike dele van Johannesburg uitskop. Dit het elektrisiteitsvoorsiening in die metro se oostelike korridor geraak. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die krag na sommige gebiede is reeds herstel, maar in ander dele moet veiligheidsinspeksies en skadebepalings eers gedoen word:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het ʼn wysing aan ʼn Staatsdepartement-bestedingswetsontwerp met ʼn oorweldigende meerderheid verwerp. Die wetsontwerp sou Amerikaanse militêre hulp aan Israel keer. Meer as 100 Demokrate het die maatreël ondersteun teenoor 37 wat twee jaar gelede vir ʼn soortgelyke voorstel gestem het. Die wysiging wat deur die Republikein, Thomas Massie, voorgestel is, sou jaarlikse Amerikaanse hulp aan Israel met sowat 54-miljard-rand besnoei. Die meeste geld sou na Israel se weermag gaan. Teenstanders sê die maatreël sou Israel se vermoë belemmer om terroriste-organisasies soos Hamas en Hisbolla te beveg.
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, wil by volgende maand se Cincinnati Ope ʼn terugkeer maak nadat hy op die inskrywingslys ingesluit is. Die Spanjaard was sedert April buite aksie nadat hy in die eerste rondte van die Barcelona Ope sy polsgewrig beseer het. Dit het hom gedwing om aan toernooie in Madrid en Rome te onttrek, en hy het ook Roland Garros en Wimbledon misgeloop. Alcaraz het die Cincinnati Ope verlede jaar gewen. Sy wen/verloor-rekord by dié toernooi is 12–4.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-602-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-33-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….