Nuus 09:00
BULLETIN 15 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering wil armoede uitwis, ongelykheid beveg en die planeet beskerm
# Minister Pule sê maatskaplike toelaes sal ononderbroke betaal word
# En atletiek: Zakithi Nene eindig derde in die 400-meter in Boedapest
# Die adjunkminister in die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Seiso Mohai, sê Suid-Afrika gaan voort met pogings om armoede, ongelykheid en werkloosheid te verminder, met volhoubare industrialisering, klimaatsveerkragtigheid, voedselsekerheid, energie-oorgang en maatskaplike beskerming wat bevorder word. Hy het Dinsdag die algemene debat van die Verenigde Nasies se Hoëvlak Politieke Forum oor Volhoubare Ontwikkeling in New York toegespreek. Mohai sê die land het op verskeie gebiede vordering gemaak, ten spyte van ‘n uitdagende globale en plaaslike omgewing, waaronder toegang tot elektrisiteit, veilige drinkwater, sanitasie, digitale konnektiwiteit en maatskaplike beskermingsdienste.
# Die pas aangestelde minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, sê ontvangers van toelaes moenie bekommerd wees oor die oorgang van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se goue kaart na die Posbank se swart kaart nie, omdat dit nie toelae-betalings sal raak nie. Die regering betaal deur verskeie programme toelaes aan sowat 28-miljoen Suid-Afrikaners. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die nuwe betaalstelsel sal logistiese probleme soos die vervoer van kontant na betaalpunte verminder en die uitbetaalproses meer doeltreffend en betroubaar maak:
# Die Wes-Kaapse polisie het nog twee verdagtes van onderskeidelik 26 en 32 jaar oud in hegtenis geneem in verband met die dodelike massaskietery die afgelope naweek in Wesbank, Malmesbury. Twee mense is doodgeskiet en agt gewond, insluitend ‘n eenjarige kleuter. Die jongste arrestasie bring die totale aantal verdagtes op drie te staan. Polisiewoordvoerder Andrè Traut sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die drie verdagtes bande het met ‘n plaaslike bende wat in die Malmesbury-omgewing bedrywig is:
# Die Europese Unie het sy internasionale ondersteuning vir Palestyne verskerp met die bekendstelling van die “Team Gaza Initiative”. Spanje, Frankryk, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Noorweë, Finland, Italië, Nederland, Japan, Switserland, Swede, België, die Wêreldbank en die Europese Beleggingsbank is deel van die veldtog. Minstens 73-duisend Palestyne is volgens berigte in die Israeli-Hamas-oorlog dood. Guillaume Mercier van die EU sê ongeveer 16,83-miljard-rand is reeds geoormerk om die mense van Gaza met hul onmiddellike behoeftes te help:
# Atletiek: Zakithi Nene van Suid-Afrika het derde geëindig in die mans 400-meter tydens Wêreldatletiek se laaste Goue Kontinentale Toer-byeenkoms in Boedapest. Hy het in 44,57 sekondes klaargemaak, agter Zambië se Statebondspele-kampioen, Muzala Samukonga, en die Hongaar Attila Molnár. Emmanuel Eseme van Kameroen het die mans 100-meter gewen. Akani Simbine van Suid-Afrika en Nishion Ebanks van Jamaika was gesamentlik vierde met ‘n tyd van 10,05 sekondes. Julien Alfred het die vroue 100-meter gewen met Tina Clayton en Brianna Lyston, albei van Jamaika, kort op haar hakke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-752-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-33-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….