Nuus 09:00
BULLETIN 14 Desember 9 vm
Goeiemôre/. Ek is……..
In die bulletin:
# Voorlopige ondersoeke begin nadat die Verulam-tempel ineenstort
# Paaie raak dodelik met verskeie noodlottige ongelukke hierdie naweek
# En in Rugby: Die Stormers handhaaf hul onoorwonne seisoen met ‘n 42-21 oorwinning oor La Rochelle
# Die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, het KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Nasionale Rampbestuur bedank vir hul voortgesette ondersteuning om vasgekeerde werkers te red uit die tempel wat in Verulam ineengestort het. Vier liggame is reeds herwin. Volgens voorlopige verslae was daar geen goedgekeurde bouplanne vir die struktuur nie en dit was dus onwettig. Hy het die gemeenskap se ondersteuning gevra wanneer die voorlopige ondersoeke begin:
# Verskeie noodlottige ongelukke is reeds hierdie naweek aangemeld. ‘n Baba van drie maande is dood en vier mense het geringe beserings opgedoen in ‘n ongeluk tussen drie motors op die N2 by Kei Cuttings in die Oos-Kaap. Die woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie, Simon Zwane, het bevestig sewe mense, waaronder ‘n baba, is in ‘n botsing reg van voor op die N12 tussen Kimberley en Warrenton in die Noord-Kaap dood, met vyf ander in ‘n soortgelyke ongeluk naby Fochville in Gauteng:
# Die Pan Africanist Congress of Azania hou sy nasionale verkiesingskonferensie in Gqeberha, Oos-Kaap, om nuwe leierskap te verkies en partybeleid te hersien. Sekretaris-generaal Apa Pooe het aan SABC News gesê die fokus is op bestendigheid, kontinuïteit en groei, en beklemtoon dat die PAC interne geskille opgelos en faksies uitgeskakel het. Hy sê die party het sy grondwet moderniseer, sy boodskap herverpak en mik vir sterker verteenwoordiging in toekomstige verkiesings:
# Die Stad Kaapstad is besig om die nuwe Gerekenariseerde Leerlinglisensietoetsstelsel by sy 18 rybewystoetssentrums bekend te stel. Die digitale skerms sal bestaande boektoetse vervang, wat die voltooiing en uitslae sal versnel. Vier sentrums is gereed, met Brackenfell en Elsiesrivier wat Maandag in werking tree. Die bekendstelling behoort teen middel Februarie 2026 voltooi te wees. Amptenare sê die stelsel sal korrupsie bekamp, al elf landstale ondersteun, gehoorgestremde aansoekers help en tydens kragonderbrekings operasioneel bly.
# Meer as 400 Amerikaanse wetstoepassers is Saterdag ontplooi as deel van ‘n polisiesoektog na die verdagte in ‘n skietvoorval by Brown Universiteit in Rhode Island. Twee studente is dood en nege ander mense is gewond. Die privaat universiteit is steeds toe nadat ‘n verdagte met ‘n vuurwapen toegang gekry het tot ‘n gebou waar studente eksamen geskryf het. Strate om die kampus was ure na die voorval vol noodvoertuie en veiligheid regdeur die stad is verskerp terwyl wetstoepassers hul soektog voortsit na ‘n man, moontlik in sy 30’s.
# Rugby: Die Stormers is die seisoen steeds onoorwonne en die tweemalige Kampioenebeker-wenners La Rochelle met 42-21 in Gqeberha verslaan. Die Franse span het besluit om 15 akademiespelers vir die kragmeting te kies en ten spyte van die verwagting dat die Stormers sou skoonmaak, was dit nie ‘n gemaklike oorwinning vir John Dobson se manne nie. Die Stormers se punte is aangeteken deur Dylan Maart met twee drieë, en een elk deur Leolin Zas, Andre-Hugo Venter, Warrick Gelant en Marcel Theunissen, met die res danksy skoppe deur Sacha Feinberg-Mngomezulu. La Rochelle het drie verdoelde drieë aangeteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….