Nuus 09:00
BULLETIN 11 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sê die ANC se voorstel om dubbele lidmaatskap af te skaf, is verkeerd
# ActionSA in Tshwane gee vier DA-raadslede aan vir die verspreiding van waninligting
# En die Amerikaanse Federale Reserwebank verlaag weer rentekoerse
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty waarsku hy sal enige poging om dubbele SAKP- en ANC-lidmaatskap af te skaf, teenstaan. Dit volg nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee dubbele lidmaatskap verwerp het omdat die SAKP onafhanklik aan verkiesings wil deelneem. SAKP-woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê enige poging om dubbele lidmaatskap te ondermyn sal die politieke raamwerk wat die nasionale hervormingsprojek bymekaar hou, fundamenteel verander:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê munisipaliteite sukkel om hul eie elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente te verkry. Ten spyte van 2020-hervormings wat daarop gemik is om energiesekerheid te bevorder, het geen munisipaliteit nuwe krag by die netwerk gevoeg nie. Uitdagings sluit in swak munisipale finansies, vaardigheidstekorte, regulatoriese geskille en netwerkbeperkings. Die buro se studie waarsku dat munisipaliteite sonder dringende ondersteuning, vaardigheidsontwikkeling en duidelike prosesse steeds nie in staat is om elektrisiteitsvoorsiening te diversifiseer of die druk deur beurtkrag en ladingsvermindering te verlig nie.
# ActionSA in Tshwane het vier DA-raadslede by die kantoor van die Speaker verkla vir die oortreding van gedragsreëls. Die party beskuldig die DA van opsetlike pogings om inwoners te mislei en paniek te veroorsaak met die verspreiding van leuens en vals inligting oor onder meer diensverskaffing, ingewandkoors en die voortslepende rioolkrisis. Henriette Frohlich van ActionSA sê hulle is daartoe verbind om alle gekose raadslede verantwoordelik te hou aan die oppergesag van die reg:
# Die Amerikaanse Federale Reserwebank het sy rentekoers vir die derde keer vanjaar verlaag. Die sentrale bank se Federale Opemark-komitee het sy riglyn-rentekoers met 25 basispunte besnoei en plaas dit in die omgewing van 3,50 tot 3,75-persent, te midde van die verhoogde inflasiekoers in die ekonomie en ‘n verswakte arbeidsmark. Die voorsitter van die Federale Reserwebank, Jerome Powell, sê die huidige verbysteek van die sentrale bank se twee-persent inflasieteiken is hoofsaaklik die gevolg van president Trump se verhoging van invoerbelasting:
# Sokker: Die voorlopers op die Kampioeneliga-punteleer, Arsenal, het ses uit ses behaal toe hulle Club Brugge met 3-0 verslaan en met twee groepwedstryde oor hul plek in die uitklopfase so te sê bespreek het. Die verdedigende kampioene, Paris Saint-Germain, se kragmeting teen Athletic Club het sonder doele geëindig. Die gelykoptelling laat die Liga Een-kampioene net een punt bo negende plek in die stryd om ‘n uitklopwedstryd te vermy. Manchester City het die 15-malige kampioene, Real Madrid, met 2-1 verslaan. Juventus, Ajax, Benfica en Copenhagen spog ook met oorwinnings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-124-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-215-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….