Nuus 09:00
BULLETIN 9 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom wil volhoubare oplossings vir die ferrochroombedryf ontwikkel
# Cosatu bly bekommerd oor die regering se neoliberale benadering
# En hokkie: Suid-Afrika speel gelykop teen Indië
# Eskom het ‘n memorandum van verstandhouding met Samancor Chrome en Glencore-Merafe Chrome Venture onderteken om langtermynoplossings vir die sukkelende ferrochroombedryf te vind. ‘n Taakspan sal billike elektrisiteitspryse binne drie maande voorstel. Sodra dit goedgekeur is, sal die smelters 40-persent van hul bedrywighede hervat. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die plan is daarop gemik om werksgeleenthede te beskerm, die bedryf te ondersteun en elektrisiteitskoste billik te hou vir huishoudings én klein besighede:
# Die vakverbond Cosatu is uiters ontsteld oor die toestand van plaaslike regering, met wanbestuur, korrupsie, onderbefondsing en die gebrek aan belastinginvordering wat gelei het tot werkers wat nie betaal word nie en basiese dienste wat agteruitgaan. Die vakverbond het sy voorlegging oor die Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring se Wysigings- en Aanpassingswetsontwerpe op die Verdeling van Inkomste by die Parlement ingedien. Matthew Parks van Cosatu sê hulle bly bekommerd oor die regering se algehele neoliberale benadering tot die begroting:
# ActionSA is bekommerd dat ‘n sleutelverdagte in die moord op 12 mense in Saulsville ‘n paroolganger is, wat in September vanjaar uit die tronk vrygelaat is. Die wreedaardige aanval het Saterdagoggend by ‘n hostel-taverne plaasgevind toe drie gewapende mans op mense losgebrand het. Dereleen James van ActionSA sê die land se regstelsel, wat bedoel is om wetsgehoorsame burgers te beskerm, bied te dikwels genade aan persone wat geen respek vir menselewens toon nie:
# Hokkie: Die wedstryd tussen Suid-Afrika en Indië by Hartleyvale in Kaapstad het met twee elk gelykop geëindig om die hoop op ‘n reeksoorwinning lewend te hou. Dis gashere het die eerste toets met 5-2 verloor. Harmanpreet Singh het die besoekers se eerste punt aangeteken en Dayaan Cassiem het die telling in die derde kwart gelykop gemaak. Hans Neethling het Suid-Afrika ʼn voorsprong van 2-1 gegee, maar Singh se strafdoel in die laaste kwart het die telling weer gelykop gemaak. Met hierdie gelykoptelling bring Suid-Afrika ʼn einde aan 13 jaar se nederlae teen die Asiatiese kampioene.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-339-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-193-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: One Battle After Another met Leonardo DiCaprio in die hoofrol is vir nege Golden Globe-toekennings benoem. Die fliek, oor die ontvoering van ‘n voormalige rewolusionêr se dogter, is benoem vir beste musiekblyspel/komedierolprent, met DiCaprio en sy medesterre Sean Penn, Teyana Taylor, Benicio Del Toro en Chase Infiniti wat almal vir toneelspel benoem is. Sentimental Value en Sinners het onderskeidelik agt en sewe benoemings ontvang. The White Lotus met ses en Adolescence met vyf is die reekse met die meeste benoemings. Die seremonie vind op 11 Januarie in Los Angeles plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….