Nuus 09:00
BULLETIN 19 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Likwidateurs dagvaar die ANC en die eienaars van Regiments Capital vir ‘n skenking van meer as 50-miljoen-rand
# AfriForum is bekommerd oor leerders wat te vroeg skool verlaat
# En, Tshwane se eerste adjunkburgemeester sê die volgehoue lewering van basiese dienste is belangrik
# Likwidateurs van Regiments Capital dagvaar die ANC en die maatskappy se eienaars vir 50-miljoen-rand wat die maatskappy in 2016 na die party herlei het. Volgens die Daily Maverick, is die geld in advokaat Naheem Raheman se trustrekening inbetaal om na bewering die skenking weg te steek. Die geld is gebruik om uitstaande skuld wat die ANC vir sy 2016-verkiesingsveldtog aangegaan het, te delg. Die likwidateurs sê in hofdokumente die betaling deur Regiments en ‘n stap om dit as ʼn aandeel-verkoopsooreenkoms op te gee, is gedoen om die maatskappy se krediteure te bedrieg.
# AfriForum sê hy is bekommerd oor die groep leerders wat nooit eens matriekeksamen skryf nie. Volgens die Departement van Basiese Onderwys se statistiek was daar in 2011 by sogenaamde gewone skole een-miljoen-208-duisend-973 leerders in graad een. In teenstelling daarmee het 715-duisend voltydse en 182-duisend deeltydse leerders verlede jaar die matriekeksamen geskryf. Hiervan was 15-duisend-186 in onafhanklike skole. Nicolene Müller van AfriForum sê dis uiters kommerwekkend dat so baie leerders uit die stelsel verdwyn:
# Die pas verkose eerste adjunkburgemeester van die Stad Tshwane, Nasiphi Moya van ActionSA, sê dis noodsaaklik om seker te maak die metro en sy inwoners kry toegang tot die dienste wat hulle dringend nodig het. Sy is gister tydens ʼn spesiale raadsvergadering gekies met ondersteuning van partye in die regerende DA-geleide koalisie, wat ʼn gesamentlike meerderheid van 109 uit 214 setels in die raad het. Moya sê versnelde infrastruktuurontwikkeling en -onderhoud moet die dryfkrag agter Tshwane se groei wees:
# Sokker: Egipte wat die Afrikanasies-beker reeds vir ‘n rekord sewende keer gewen het, moes hard terugbaklei om in hulle tweede wedstryd van die toernooi gelykop met twee elk teen Ghana te eindig. Die Black Stars het twee keer voorgeloop ná doele deur Mohammed Kudus, maar die Pharaohs-spelers Omar Marmoush en Mostafa Mohamed het teruggeslaan en die telling gelykop gemaak. Ghana is met een punt steeds laaste in Groep B terwyl Egipte nou tweede is met twee punte. In Groep A het Nigerië die gashere van Ivoorkus met een-nul verslaan terwyl Ekwatoriaal-Guinee ʼn sege van vier-twee oor Guinee-Bissau behaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-118-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-21-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-95-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die eerste Mazaalai internasionale sneeu- en ysfees in Mongolië het vir ʼn nuwe Guinness-wêreldrekord gesorg toe die meeste mense ooit gelyktydig teen ʼn ysglyplank afgegly het. Altesaam 408 deelnemers het gehelp om die rekord te behaal deur ʼn uur lank een na die ander teen die fees se ysglyplank van 16,4-meter af te gly. Die fees, wat op die 28ste van die maand eindig, se grootste trekpleister is ʼn groot beeldhouwerk van ys wat die land se beskermde Gobi-beer, Mazaalai, en haar welpies uitbeeld. Die doel is om bewustheid oor dié ernstig bedreigde dier te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….