Nuus 09:00
BULLETIN 8 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Schreiber sê bona fide reisigers van Palestina is welkom
# Die Britse premier sal vandag met Zelensky, Macron en Merz vergader vir gesprekke oor vredesonderhandelinge
# En gholf: Kristoffer Reitan van Noorweë wen die Nedbank Gholf-uitdaging
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê Suid-Afrika sal nie medepligtig wees aan enige plan om Palestyne uit Gaza te misbruik of te ontheem nie. Dit volg nadat die departement die 90-dae visumvrystelling vir Palestyne met gewone paspoorte teruggetrek het, nadat doelbewuste en voortgesette misbruik van die vrystelling deur Israel uitgewys is. Schreiber sê met die aankoms van die mees onlangse huurvlug met Palestyne by die OR Tambo Internasionale Lughawe, het president Cyril Ramaphosa aangedui dat die reisigers moontlik uit Gaza verdryf is:
# COPE het kommer uitgespreek oor die moorde, intimidasie en teistering van getuies van die Madlanga-kommissie. Marius van der Merwe, wat verlede maand voor die kommissie getuig het, is Vrydagaand buite sy huis in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet. COPE-woordvoerder, Tom Mofokeng, sê die Spesiale Ondersoekeenheid moet die onregmatige toekenning van tenders in Ekurhuleni ondersoek, en individue wat opgeroep word om voor die kommissie te getuig, in ‘n getuiebeskermingsprogram plaas:
# Die ANC in die Wes-Kaap het die Openbare Beskermer gevra om ondersoek in te stel na ‘n terugbetaling van 51-duisend-rand aan premier Alan Winde vir vlugte na New York tydens Klimaatweek in 2024. Volgens die party het die premier se kantoor versuim om die terugbetaling in die aangepaste beramings of in die register vir verpligte geskenke en skenkings te verklaar. Die ANC se provinsiale leier, Khalid Sayed, sê die weglating van die betaling wek kommer oor deursigtigheid, voldoening aan Tesourie-regulasies en die integriteit van finansiële verslagdoening in Winde se kantoor.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer ontvang vandag die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky in Downingstraat in Londen. Die vergadering sal fokus op reaksie op Amerika se voorgestelde vredesplan om die oorlog met Rusland te beëindig. Die vergadering word ook deur die Franse president Emmanuel Macron en die Duitse kanselier Friedrich Merz bygewoon. Die konsep-vredesooreenkoms, wat tussen Amerikaanse en Russiese amptenare bemiddel is, het kritiek ontlok omdat dit Oekraïne in ‘n swak en kwesbare posisie laat. Starmer het herhaaldelik beklemtoon dat Kiëf sy eie toekoms moet bepaal.
# Gholf: Kristoffer Reitan het geskiedenis gemaak toe hy die eerste Noorweër geword het om die Nedbank-gholfuitdaging by Sun City te wen. Hy het Jayden Schaper van Suid-Afrika en Dan Bradbury van Engeland met 72 uitgestof vir ʼn oorwinning van een hou op 17 onder baansyfer. Dis die 27-jarige Reitan se tweede DP World Tour-titel van die seisoen wat sy eerste deelname aan die Meesters verseker. Hy sê om die laaste ronde met ʼn voorsprong van vyf houe te begin, het geweldige druk op hom geplaas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-144-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-210-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….