Nuus 09:00
BULLETIN 5 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Amerika se geduld met Suid-Afrika het ‘n breekpunt bereik
# Minister Mantashe sê die goudmynbedryf bly Suid-Afrika se ekonomiese anker
# En die DA waarsku Johannesburg val uitmekaar na die G20-beraad
# Die Vryheidsfront Plus sê Amerika se veroordeling van Suid-Afrika is nie net meer ‘n diplomatieke woordestryd nie; dis die verwerping van ‘n regering wat die geduld van die wêreld se supermoondheid tot die uiterste beproef het. Dit volg op die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, se verklaring waarin hy Suid-Afrika se G20 presidensie kritiseer en die regering beskuldig het wat honger vir rassime is en geweld teen Afrikaners verdra. Die leier van die VF Plus, Corne Mulder, sê die ANC moet sy radikale benadering los of Suid-Afrika sal toenemend uitgesluit word.
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê goudmynbedrywighede is steeds die Suid-Afrikaanse ekonomie se anker en verskaf broodnodige werk aan landsburgers. Die minister het gister die Qala Shallows-goudmyn in Roodepoort, Gauteng, geopen. Mantashe sê die myn toon die regering se voortgesette toewyding om ‘n goeie omgewing te skep vir verantwoordelike mynbedrywighede, belegging aan te moedig en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling in die mynsektor te bevorder:
# # Die DA sê Johannesburg val uitmekaar na die G20-beraad, met aanhoudende kragonderbrekings en waterlekkasies wat inwoners dwing om vir hulself te sorg. Die party beskuldig die ANC-geleide stadsregering dat hulle basiese bestuur verwaarloos om op politieke gebeure te fokus. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê hulle sal alle grondwetlike hulpmiddels gebruik om die ANC aanspreeklik te hou:
# Die Amerikaanse weermag het nog ʼn dodelike aanval in die suidelike Stille Oseaan uitgevoer op ʼn boot wat vermoedelik onwettige dwelms vervoer. Vier mense is in die aanval dood. Die Pentagon kom toenemend onder druk ná ʼn aanval in September op ʼn vermeende dwelmboot en opvolgaanvalle waarin twee mense dood is. Die weermag het sedert September 22 aanvalle uitgevoer op bote wat vermoedelik dwelms vervoer, en 87 mense is in die aanvalle dood. Amerika se Suidelike Bevel sê die jongste aanval was op ʼn vaartuig van ʼn geïdentifiseerde terroriste-organisasie.
# Motorsport: Lando Norris sê hy is huiwerig om McLaren te vra vir ʼn spanbevel vir Oscar Piastri om hom te help om Sondag sy eerste Formula 1-bestuurderskampioenskap by die seisoen se laaste geleentheid in Abu Dhabi te wen. Norris is 12 punte voor Max Verstappen van Red Bull en 16 voor spanmaat Piastri. Die Brit het slegs ʼn podiumplek nodig om wêreldkampioen te word. Norris sê dis die span se besluit om ʼn spanbevel vir Piastri uit te reik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-228-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-212-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….