Nuus 09:00
BULLETIN 4 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika stem ten gunste van ‘n VN-resolusie wat Rusland versoek om Oekraïnse kinders terug te stuur
# BOSA sê die polisie sukkel om tred te hou met die land se misdaadvlakke
# En ActionSA verwelkom die positiewe stappe in Gauteng se aansuiweringsbegroting
# Suid-Afrika het ten gunste van die konsepvoorstel van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gestem om te eis dat Rusland dadelik die veilige en onvoorwaardelike terugkeer van alle Oekraïnse kinders wat gedwing is om te verskuif of gedeporteer is, verseker. Een-en-negentig lande het ten gunste van die mosie gestem, 12 daarteen, insluitend Rusland, Soedan en Iran en 57 het buite stemming gebly. Moskou het sedert Februarie 2022 ten minste 20-duisend Oekraïnse kinders ontvoer. Die minister van Buitelandse Sake van Oekraïne, Mariana Betsa, sê Rusland het kinders die kwesbaarste teiken van aggressie gemaak:
# Build One South Africa sê dis ontstellend dat oor die afgelope dekade meer as 21-miljoen strafsake in die land geopen is en 61,7-persent hiervan onopgelos gesluit is. Volgens amptelike inligting van die ministerie van Polisie, beteken dit 13,2-miljoen sake is gesluit sonder om opgelos te word. Die woordvoerder van BOSA, Roger Solomons, sê die oplossyfer van strafregtelike sake is slegs 37,5-persent wat wys op ‘n stelsel wat oorweldig word deur al meer misdade en ‘n ernstige tekort aan speurders en polisiebeamptes:
# ActionSA het die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, se aansuiweringsbegroting en maatreëls om finansiële bestuur te versterk, verwelkom. Die totale aanpassing vir die provinsie is 3,3-miljard-rand wat nasionale, provinsiale en oorstaanbefondsing insluit. ActionSA-woordvoerder Zwelithini Mtshali sê die begroting spreek egter nie die provinsie se toenemende finansiële druk aan, soos in die Departement van Gesondheid te sien is nie:
# Sokker: Arsenal het sy voorsprong van vyf punte op die Premierliga-punteleer herstel nadat hy Brentford op die Emirates-stadion met 2-0 verslaan het. Mikel Merino en Bukayo Saka se doele het bygedra tot die Gunners se prestasie van 18 onoorwonne wedstryde in alle kompetisies en hul agtste agtereenvolgende sege op hul tuisveld. Die verdedigende kampioene, Liverpool, en Sunderland se kragmeting was gelykop met een elk, terwyl Aston Villa ingehaal en Brighton met 4-3 geklop het. Chelsea het met 3-1 teen Leeds verloor en is nou nege punte agter die voorlopers, Arsenal.
Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-448-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Oupa Magashula, is op 63-jarige leeftyd dood. Hy is gisteraand na ‘n lang siekbed oorlede. Magashula is in 2008 as Inkomstediens-kommissaris aangestel en het in 2013 bedank ná ʼn ondersoek na bewerings dat hy ʼn vrou werk aangebied het sonder om die regte prosedure te volg. Sy familie sê hy het Suid-Afrika in die openbare en privaat sektor met onderskeiding gedien en sal onthou word vir sy nederigheid en toewyding aan die land.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….