Nuus 09:00
BULLETIN 29 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Senzo Mchunu het die polisietaakspan ontbind sonder om te weet wat die volle uitwerking is
# Minister Andries Nel dring aan op nasionale optrede om tienerswangerskap te beëindig
# En rugby: Die Blitsbok-afrigter sê hulle is gereed vir die nuwe wêreldreeks
# Die waarnemende adjunk- nasionale polisiekommissaris Hilda Senthumule het aan die Madlanga-kommissie gesê polisieminister Senzo Mchunu het die politieke moorde-taakspan ontbind het terwyl hy nog in sy oriënteringsfase was. Sy sê Mchunu het nie die omvang of gevolge van die skuif ten volle verstaan nie. Sy het verduidelik die besluit het speurders geraak, voortgesette ondersoeke ontwrig en onsekerheid binne die polisiediens geskep, wat kommer laat ontstaan het oor die hantering van politieke moorde:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê tienerswangerskap ontwrig nie net meisies se toekoms nie, maar ook dié van die nasie. Nel het tydens ‘n Indaba oor tienerswangerskap in Johannesburg kommentaar gelewer oor die 117-duisend-195 meisies tussen die ouderdomme van tien en 19 wat in die 2024/25-boekjaar geboorte geskenk het. Die adjunkminister het gevra vir omvattende onderwys, tienervriendelike gesondheidsdienste, ondersteuning vir swanger leerders, gemeenskapsbetrokkenheid en gekoördineerde regeringsoptrede. Hy het grondwetlike regte, geregtigheid en bemagtiging beklemtoon en onderneem dat geen meisie geïgnoreer sal word nie en elke droom beskerm moet word.
# Die DA in die Wes-Kaap het die nasionale ANC regering gekritiseer nadat die SAPD se misdaadstatistieke vir April tot September twee-duisend-308 moorde en meer as 133-duisend ernstige misdade aandui. Benedicta van Minnen van die party sê die nasionale regering het versuim om polisiëring voldoende te befonds, wat gemeenskappe kwesbaar laat. Van Minnen sê die DA doen ‘n beroep op ‘n hersiening van SAPD-leierskap en afgewentelde provinsiale polisiëringsmagte om veiligheid te verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings gaan die 2025 COMPACT-konferensie met die ondersteuning van die Europese Unie aanbied. Motalatale Modiba van SALGA sê die konferensie bring kundiges bymekaar om ontwikkelingsgerigte plaaslike regering te herbedink, verantwoordbaarheid en burgerdeelname te verbeter, en wetgewende veranderinge te lei voor Suid-Afrika se sewende plaaslike regeringsverkiesing:
# Afrika-varkpes het na drie dekades teruggekeer na Spanje, met die ontdekking dat twee dooie wildevarke wat naby Barcelona gevind is, positief getoets het vir die virus. Die uitbreking, die eerste sedert 1994, kom te midde van Spaanse pogings om Beijing te oortuig en ‘n markaandeel in die varkvleissektor te verkry. China en Spanje het hierdie maand ooreengekom dat China slegs invoere uit ‘n geaffekteerde streek sal beperk eerder as uit die hele Spanje. Spanje is voor Duitsland die Europese Unie se voorste varkvleisprodusent, wat ongeveer ‘n kwart van die blok se produksie verteenwoordig.
# En rugby: Die Springbok-sewesrugbyspan kom te staan teen Argentinië, Fidji en Frankryk in Groep A wanneer die nuwe wêreldreeks vandag in Dubai begin. Die hoofafrigter van die Blitsbokke, Philip Snyman, wat agt keer in die Verenigde Arabiese Emirate as speler deelgeneem het, sê hulle is so gereed as wat hulle kan wees. Hy sê hulle is deeglik bewus van die uitdagings, met Frankryk as Olimpiese kampioen, Fidji waarskynlik die mees erkende sewes-rugbyland ter wêreld, en Argentinië wat die reeks die afgelope paar jaar gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….