Nuus 09:00
BULLETIN 18 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stel reserwe-bieërs bekend in die jongste verkrygingsronde vir hernubare energie
# Transnet heropen vandag die eerste van twee lyne na die Richardsbaai-steenkoolterminaal
# En rugby, Manie Libbok speel die naweek sy 50ste wedstryd vir die Stormers
# Die kantoor vir onafhanklike kragverskaffers gaan sy reserwe-bod vir venster sewe van die onafhanklike kragprodusenteprogram vir hernubare energie bekendstel. Die reserwebod sal as rugsteun gebruik word om verdere vertragings om kapasiteit by die netwerk te voeg, te voorkom. Die kantoor se regshoof, Lena Mangondo, sê die sewende bod-ronde bestaan uit drie-duisend-200 megawatt binnelandse windkrag en een-duisend-800 megawatt fotovoltaïese sonkrag. Sy sê die sperdatum vir aanbiedings is 30 April:
# Transnet sê hy beplan om die eerste van twee spoorlyne na die land se grootste uitvoerterminaal vandag te heropen. Die Richardsbaai-steenkoolterminaal in KwaZulu-Natal moes gesluit word ná ‘n botsing tussen twee steenkooltreine Sondag. Die mynmaatskappye Thungela Resources en Exxaro Resources het albei gesê hulle glo nie die ontsporing sal ‘n beduidende uitwerking op hul uitvoere van dié fossielbrandstof hê nie. ‘n Ondoeltreffende spoorstelsel het die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2022 alleen 411-miljard-rand gekos toe maatskappye slegs 50,4-miljoen ton steenkool deur die Richardsbaai-terminaal kon uitvoer.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap se brandweerdiens sê die brand wat gistermiddag in die gebied rondom die Robertsvleipad in Franschhoek ontstaan het, is heeltemal geblus. Die brand het in ‘n ou plantasie bokant die Robertsvleipad gewoed. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê geen skade aan eiendom is aangemeld nie:
# ʼn Openbare aanklaer wat die ondersoek gelei het na die aanval op ʼn TV-netwerk in Ecuador, is in ʼn sluipmoordaanval dood. César Suárez is in die misdaadgeteisterde stad, Guayaquil, in ʼn lokval gelei en doodgeskiet. Gewapende mans het verlede week die openbare TV-kanaal, TC, se ateljee tydens ʼn regstreekse uitsending bestorm en die personeel gedreig. ʼn Kameraman is in die been gewond. Dertien mense is gearresteer en ʼn noodtoestand van 60 dae is afgekondig. Die land se prokureur-generaal, Diana Salazar, sê hulle sal voortgaan om vir geregtigheid te werk.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok speel Saterdag sy 50ste wedstryd vir die Stormers wanneer die Kaapse span in ʼn Kampioenebeker-wedstryd in Parys teen Stade Francais te staan kom. Hy het sy debuut vir die Stormers in 2021 gemaak en reeds meer as 400 punte aangeteken. Die Stormers moet net twee ligapunte in die kragmeting verdien om hulle plek in die laaste 16 van die kompetisie te verseker. Hulle is tans in die tweede plek in Groep 4 na die Ierse span, Leinster.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-595-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-7-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….