Nuus 09:00
BULLETIN 27 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag ‘n Mans Indaba teen geslagsgeweld en vrouemoord toespreek
# PresidentTrump veroordeel die skiet van twee lede van die Nasionale Wag
# En sokker: Oorwinnings vir PSG, Arsenal en Real Madrid in die Kampioeneliga
# President Cyril Ramaphosa gaan vandag ‘n manne-indaba teen geslagsgeweld en vrouemoord toespreek wat die kantoor van die premier van die Vrystaat gereël het. Dit is tans 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders. Vanjaar se tema is Letsema: Mans, vroue, seuns en meisies werk saam om geslagsgeweld en vrouemoord te beëindig. Volgens die presidensie sal Ramaphosa by die geleentheid ‘n beroep doen op mans om meer aktief en betrokke te wees om die golf van geslagsgeweld en vrouemoord te voorkom.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die volledige instelling van die Suid-Afrikaanse Bou-aksieplan aangekondig. Dis gemik op die herstel van projekte wat vertraag word of waarvoor te veel begroot is, en om die land se bousektor te hervestig. Macpherson sê die plan bevat ses aksies om onderprestasie te hanteer. Dit sluit aanspreeklikheid in en om kontrakteurs op ‘n swartlys te plaas, kontantvloeiprobleme op te los, digitale infrastruktuur-nasporing, verkryginghervorming, deeglike boekhouding, en professionalisering van die bou-omgewing:
# Die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie het die DA se voorstel dat die Stad Tshwane sy besluit om nie terugwerkende salarisverhogings te heroorweeg nie, kritiseer. Die metro is verplig om twee-miljard-rand aan salarisverhogings wat tot in 2021 terugstrek, te betaal. Hy het tot 14 Desember tyd om die saak na die Arbeidshof te neem. Samwu sê die DA se onlangse verklaring is nie werklik ‘n finansiële plan om die metro te red nie, maar eerder ‘n oorlogsverklaring teen die werkersklas.
# President Donald Trump het die skietvoorval op twee soldate van die Wes-Virginiese Nasionale Wag naby die Withuis in Washington DC veroordeel en beskryf dit as terrorisme. Die wagte was besig met hoësigbaarheid-patrollies toe ʼn verdagte op hulle losbrand en ernstig wond. Owerhede sê die skieter, wat vasgetrek is, is van Afghanistan en het Amerika in 2021 binnegegaan. FBI-direkteur, Kash Patel, sê die soldate is tydens ʼn gruwelike daad van geweld brutaal aangeval:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Paris St-Germain, het Tottenham Hotspur met 5-3 verslaan en is tweede op die Kampioeneliga se groepfase-punteleer. Richarlison en Randal Kolo Muani se doele het Spurs twee keer tydens die wedstryd ʼn voorsprong gegee. Vitinha se driekuns en doele deur Fabián Ruiz en Willian Pacho het PSG se oorwinning verseker. Liverpool het nog ʼn skokkende nederlaag gely toe PSV hulle op Anfield met 4-1 afgeransel het. Arsenal het hul 100-persent rekord in die kompetisie behou toe hulle Bayern Munich met 3-1 geklop het. Die 15-malige kampioene, Real Madrid, het Olympiakos met 4-3 verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-237-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-147-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….