Nuus 09:00
BULLETIN 17 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Burgerlike organisasies sê die G20-leiersberaad loop die risiko om die belange van die elites eerste te stel
# Die VSA gaan ‘n Venezolaanse kartel as ‘n buitelandse terroriste-organisasie verklaar
# En gholf: Rory McIlroy wen die Race to Dubai-titel vir die sewende keer
# Burgerlike samelewingsorganisasies sê sonder die insette van gewone mense, loop die G20-leiersberaad in Johannesburg hierdie naweek die risiko om die belange van elites te prioritiseer en die status quo te laat voortduur. Die beraad sal die eerste wees wat op die Afrika-vasteland gehou word en sal hoogwaardigheidsbekleërs van die wêreld se rykste lande insluit. Byna die helfte van die wêreld se bevolking leef in armoede terwyl slegs drieduisend miljardêrs 43-persent van die wêreld se bates besit. Die organisasies eis dat regeringsklimaatsgeregtigheid, skuldvermindering en die belasting van miljardêrs en dollarmiljoenêrs eerste gestel word.
# Die ANC-vroueliga sê meer moet gedoen word om voorvalle van geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp omdat dit buitensporige vlakke in Suid-Afrika bereik het. Volgens statistieke word daar jaarliks meer as 42-duisend verkragtings en duisende vrouemoorde aangemeld. Die vroueliga se sekretaris-generaal, Nokuthula Nqaba, sê geslagsgeweld en moorde op vroue moet as nasionale noodtoestand hanteer word en daar moet aangewese hulpbronne en gekoördineerde reaksie soortgelyk aan dié op natuurrampe wees:
# Die Stad Johannesburg het ‘n Sunday Times-artikel met die opskrif, Workers’ R4bn G20 blackmail, heeltemal verwerp. Die artikel beweer die metro het vier-miljard-rand van sy kapitaaluitgawebegroting aangewend om ‘n betoging deur die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie om die G20-leiersberaad te ontwrig, te voorkom. Burgemeester Dada Morero se woordvoerder, Khathutshelo Mulaudzi, sê die artikel is deurspek van feitelike onwaarhede, teenstrydighede en ongegronde bewerings:
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake sê dat hy gaan van volgende Maandag ‘n Venezolaanse kartel, Cartel de los Soles, as ‘n buitelandse terroriste-organisasie verklaar. Dit volg nadat die VSA sy militêre teenwoordigheid in die Karibiese Eilande versterk het, onder meer met die aankoms gister van die wêreld se grootste vliegdekskip. Die VSA beweer die kartel word gelei deur president Nicolás Maduro. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Cartel de los Soles en ander groepe is verantwoordelik vir terroristegeweld en dwelmhandel in Amerika en Europa.
# Gholf: Die vyfmalige major-kampioen, Rory McIlroy, het die Race to Dubai-titel die vierde agtereenvolgende jaar en die sewende keer in sy loopbaan gewen. Die Noord-Ier was naaswenner in die seisoen se laaste DP World Tour-kampioenskap in Dubai, wat Matt Fitzpatrick van Engeland in ‘n uitspeelronde gewen het. Die Switser, Ludvig Åberg, en Tommy Fleetwood van Engeland deel die derde plek. McIlroy sê dis ʼn eer om die Spanjaard, Seve Ballesteros, se kerf van ses titels verby te steek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-82-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….