Nuus 09:00
BULLETIN 15 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die G20-beraad sal deur alle lande behalwe die VSA bygewoon word
# ’n Gesin van vyf sterf in ’n ongeluk op die N2 in KZN
# En Nersa verlaag Sasol Gas se maksimum prys met ses-persent
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die G20-leiersberaad volgende naweek sal deur alle lande behalwe die Verenigde State van Amerika bygewoon word. Mbalula het gepraat tydens die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering in Germiston, Ekurhuleni. Hy sê hoewel die VSA die werkgroepe bygewoon en daaraan deelgeneem het, sal hulle nie die leiersberaad bywoon nie:
# Vyf mense is dood toe ‘n Suzuki ligte motorvoertuig en ‘n sewesitplek-minibus gisteraand reg van voor in ‘n botsing betrokke was op die N2 voor die Umzumbe-rivierbrug in KwaZulu-Natal. Die woordvoerder van die provinsiale Departement van Vervoer, Ndabezinhle Sibiya, sê drie kinders tussen die ouderdomme van drie en vyf, en twee volwassenes wat vermoedelik hul ouers is, is op slag dood. Vier mense is beseer:
# Die Inligtingsreguleerder sê byna tweeduisend datalekke is sedert April aangemeld, wat ‘n styging van 40-persent sedert 2024 verteenwoordig. Die voorsitter, Pansy Tlakula, het gewaarsku dat beide regerings- en privaat organisasies dringend kubersekerheidstelsels moet versterk om persoonlike data te beskerm. Die reguleerder betwis Google en Meta se weiering om sekere rekords te verskaf kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Sy dring daarop aan dat die wet ook van toepassing is op globale firmas wat in Suid-Afrika werk:
# Die energiereguleerder, Nersa, het ‘n ses-persent verlaging in Sasolgas se maksimum prys vir die derde kwartaal van die 2025/2026 finansiële jaar goedgekeur. Die nuwe maksimum prys is 85-rand-tien sent per gigajoule, wat van 90-rand-57 sent gedaal het. Die verlaging volg op geverifieerde kostedata, insluitend nuwe voorraad uit Mosambiek. Charles Hlebela van die reguleerder sê die maksimum prys weerspieël nie noodwendig die werklike prys wat kliënte betaal nie, wat na verwagting laer sal wees.
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het bevestig dat hulle die pedofielfinansier Jeffrey Epstein se beweerde bande met groot banke en verskeie prominente Demokrate, insluitend voormalige president Bill Clinton, sal ondersoek. Dit volg nadat president Donald Trump die prokureur-generaal Pam Bondi en die FBI gevra het om ondersoek in te stel. Bondi sê die departement sal dit dringend met integriteit uitvoer. Trump se opdrag volg na duisende van Epstein se e-posse deur die Amerikaanse Kongres vrygestel is. Daarin word melding gemaak van die Amerikaanse president. Demokrate sê Trump probeer die aandag van sy verhouding met Epstein aflei.
# En tennis: Jannik Sinner is steeds op koers om sy ATP-jaareindtitel te verdedig nadat hy Ben Shelton verslaan en ‘n perfekte groepfase voltooi het. Felix Auger-Aliassime het die laaste plek in die halfeindronde behaal nadat hy Alexander Zverev geklop het. Sinner sal vanmiddag teen Alex de Minaur te staan kom in die eerste halfeindronde, met Carlos Alcaraz teen Auger-Aliassime in die ander. Die wêreld se twee topspelers is onoorwonne in die toernooi en op koers vir nog ‘n eindstryd. Alcaraz het reeds die topposisie op die mansranglys aan die einde van die 2025-seisoen verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….