Nuus 09:00
BULLETIN 14 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as honderd Palestynse vlugtelinge wat asiel in Suid-Afrika soek, het ‘n 90-dae visum ontvang
# Die GOOD-party bevraagteken die aanstelling van Willie Aucamp as minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing
# En Hamas het die liggaam van nog ’n vermoedelike Israelse gyselaar oorhandig
# Die Grensbestuursowerheid sê die 153 Palestyne wat as asielsoekers na Suid-Afrika gereis het, kan ‘n 90-dae visum kry om in die land te reis. Die vlugtelinge was gister 12-uur lank op OR Tambo Internasionale Lughawe gestrand nadat hulle aanvanklik toegang geweier is omdat hulle nie die nodige vertrekstempels in hul paspoorte gehad het nie. Hulle het die vliegtuig verlaat nadat Gift of the Givers onderneem het om die reisigers te huisves. Mmemme Mogotsi van die GBO sê 23 van die 153 passasiers het die land reeds verlaat:
# Die GOOD-party sê die DA-leier, John Steenhuisen, moet verduidelik waarom Willie Aucamp se aanstelling as minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing die land se integriteit eerder as sy party se integriteit dien. Op Steenhuisen se versoek het president Cyril Ramaphosa Woensdag minister Dion George met Aucamp vervang. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Aucamp se aanstelling plaas voogdyskap oor Suid-Afrika se omgewing in die hande van voorstanders van die teel, handel en jag van wild:
# President Cyril Ramaphosa neem vandag deel aan die CEO-City Cleanup-program in Kliptown, Johannesburg. Die program verenig instellings en belangrike uitvoerende hoofde van die metro om stedelike vernuwing te bevorder, dienslewering te verbeter en waardigheid in sekere buurte te herstel. Die metro-woordvoerder, Virgil James, sê CEO-City Cleanup is die eerste sentrale projek onder die vennootskapmodel:
# Israel het bevestig die Palestynse militante groep Hamas het die liggaam van nog ‘n gyselaar oorhandig. Indien die identiteit van die jongste liggaam volgens ‘n uitkenningsproses bepaal kan word, beteken dit 25 van die 28 oorledenes in die eerste fase van die skietstilstandooreenkoms aan Israel oorhanig is. Hamas het erken dit was moeilik om die gyselaars se liggame onder die puin te kry. Al 20 lewende Israeliese gyselaaars is op 13 Oktober vrygelaat in ruil vir 250 Palestynse gevangenes en een-duisend-718 aangehoudenes van Gaza.
# Sokker: Nigerië is deur na die 2026 Wêreldbeker Afrika se uitspeel-eindstryd ná ‘n 4-1-oorwinning teen Gaboen in ekstra speeltyd. Die Super Eagles kom in Sondag se eindstryd teen die Demokratiese Republiek die Kongo te staan nadat die Leopards Kameroen met 1-0 geklop het. Die eindwedstryd se wenner dring deur na die interkonfederale uitspeelwedstryde in Mexiko in Maart, wat die laaste twee kwalifiseerders vir die Wêreldbeker in Kanada, Mexiko en Amerika sal bepaal. Intussen het die tweemalige kampioene van Frankryk hulle plek in die Wêreldbeker verseker nadat hulle Oekraïne met 4-0 verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-758-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-203-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….