Nuus 09:00
BULLETIN 3 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki waarsku oor teen-revolusionêre magte in die ANC
# Die Activists and Citizens Forum sê korrupsie en werkloosheid neem toe onder Ramaphosa
# En tennis: Sinner wen die Paryse Meesters en herwin sy plek as wêreld-nommer-een
# Die DA in Ekurhuleni het die verbyry-skietery in Reigerpark waarin ses mense dood is, veroordeel. Drie ander is gewond in die voorval wat Saterdagaand plaasgevind het. Izelle Senol van die DA sê hierdie sinnelose daad van geweld het die gemeenskap verpletter en getraumatiseerd gelaat. Sy sê wetstoepassingsowerhede moet vinnig optree om die skuldiges tot verantwoording te roep:
# Die Activists and Citizens Forum sê die land het nog nooit die vlak van korrupsie en werkloosheid ervaar soos tans onder president Cyril Ramaphosa se administrasie nie. Die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad sê institusionele hervorming is nodig is om antwoorde te vind vir die tekortkominge in praktyke en stelsels wat korrupsie in staat gestel het om te floreer. Dennis Bloem van die forum sê die vlakke van korrupsie het selfs tydens die staatskaping-periode onder voormalige president Jacob Zuma nie dié krisisvlak bereik nie:
# Oudpresident Thabo Mbeki waarsku daar is teenrewolusionêre magte in die ANC en dat faksievorming en loopbaangerigtheid onder lede die grootste bedreiging vir die party se oorlewing is. Hy het by die ANC-veteraneliga se Politieke Skool in Gqeberha gepraat waar dalende kiesersteun, interne faksies en die gehalte van die party se leierskap bespreek is. Mbeki sê die party kan nie Suid-Afrika se probleme oplos as hy homself nie vernuwe en etiese leierskap herstel nie. Hy sê die verandering moet op tak-vlak begin.
# Nigerië se ministerie van Buitelandse Sake sê hy sal Amerika se hulp aanvaar om teen Islamitiese militante groepe te veg, solank sy gebiedsintegriteit gerespekteer word. President Donald Trump van Amerika het die Departement van Verdediging opdrag gegee om gereed te maak vir moontlike militêre optrede in Nigerië. Hy beskuldig dié land se regering dat hy nie wat hy die massaslagting van Christene noem, keer nie. Die ministerie se woordvoerder, Kimiebi Imomotimi Ebienfa, ontken Trump se bewerings van massamoorde op Christene:
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner het sy eerste Paryse Meesters-titel gewen en die nommer-een-posisie by teenstander Carlos Alcaraz teruggevat. Die 24-jarige Sinner het die Kanadees, Felix Auger-Aliassime, verslaan en spog nou met 26 agtereenvolgende oorwinnings op binnenshuise harde bane. Sinner, wat ook in die wedloop is om die jaar as die wêreld-nommer-een af te sluit, wat by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn beslis word, sê dit was ‘n wonderlike jaar, wat ook al in Turyn gebeur:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-897-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-vier-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….