Nuus 09:00
BULLETIN 30 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi verseker volle regeringsamewerking met die WVK
# Openbare Werke het ‘n plan om bouprojekte en verwaarloosde staatsgeboue te laat herleef
# En die WGO veroordeel die moord op pasiënte en ontvoering van gesondheidswerkers in Soedan
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeing, Mmamoloko Kubayi, sê dit blyk dat die Waarheid en Versoeningskommissie bekommerd is oor die vlak van samewerking by sekere regeringsdepartemente en agentskappe. Dit volg nadat die kommissie regshulp moes inroep nadat belangrike instansies, insluitend die Nasionale Padagentskap, die SAPD en die Departement van Justisie nie die dokumente wat versoek is, ingedien het nie. Die woordvoerder van die departement, Terrence Manase, sê minister Kubayi het die regering se volle ondersteuning van en samewerking met die kommissie herbevestig:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê dis hoog tyd dat kontrakteurs wat nie hul werk doen nie en ongestraf bly, aanspreeklik gehou word. Die minister het gister die Suid-Afrikaanse Konstruksie-aksieplan bekendgestel om onvoltooide bouprojekte af te handel en aanspreeklikheid in die Openbare Werke en Infrastruktuur-sektor te herstel. Die sespuntplan sluit in die digitale nasporing van alle bouprojekte en afbakeningsbegrotings om seker te maak kontrakteurs word betyds betaal. Macpherson sê hierdie plan sal lewering van projekte en bestuur verbeter.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die beslaglegging van kokaïen ter waarde van ongeveer 20-miljoen-rand in Midrand, Gauteng, verwelkom. Die polisie het ‘n eiendom in Blue Hills deursoek waar hulle ongeveer 80 kilogram kokaïen in ‘n stoorkamer ontdek het. ‘n Ses-en-vyftig-jarige man, wat vermoedelik die eienaar van die eiendom is, is in hegtenis geneem. Die ministeriële woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die dwelmvonds is ‘n groot slag vir georganiseerde misdaadsindikate:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie veroordeel die moord op meer as 460 pasiënte en ontvoering van ses gesondheidswerkers by die Saudi-kraaminrigting in El Fasher, Soedan. Die WGO het voor die jongste aanval reeds 185 aanvalle op gesondheidsorgfasiliteite in Soedan bevestig sedert die konflik in April 2023 begin het. In dié tydperk is een-duisend-204 pasiënte en personeellede dood en 416 is beseer. Nege-en-veertig van hierdie aanvalle het vanjaar plaasgevind. Die WGO sê alle aanvalle op gesondheidsorg moet onmiddellik gestaak word.
# Tennis: Die wêreld se nommer twee speler Jannik Sinner is deur na die laaste 16 van die Parys Meesters. Die Italianer het Zizou Bergs van België geklop om sy toernooi-vlak oorwinnings op harde binnenshuise bane tot 22 op te skuif. Sinner sal nou teen Francisco Cerundolo van Argentinië te staan kom wat die Serwiër, Miomir Kecmanovic uitgeskakel het. Daniil Medvedev van Rusland is ook onder die laaste 16 nadat sy teenstander in die tweede ronde, Grigor Dimitrov van Bulgarye, weens ‘n regterskouerbesering gedwing is om voor hul wedstryd te onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-33-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-953-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….