Nuus 09:00
BULLETIN 29 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-studiegroep oor gesondheid verwelkom die nuwe MIV-voorkomingsmiddel
# Die SA Weerdiens verwerp bewerings van wanbestuur
# En meer as 60 kom om in die grootste polisie-klopjag in Rio de Janeiro se geskiedenis
# Die ANC-studiegroep oor Gesondheid verwelkom die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte se goedkeuring van die registrasie van lenakapavir. Dit is ‘n nuwe deurbraak-MIV-voorkomingsmiddel wat slegs twee keer per jaar geneem hoef te word. Suid-Afrika is die eerste land in Afrika wat lenakapavir goedkeur. Die ANC sê die mylpaal is ‘n beduidende stap vorentoe in die uitbreiding van MIV-voorkomingsopsies en toon Suid-Afrika se leierskap in die wêreldwye optrede teen MIV. Hy voeg by dat dit ook die land se gereedheid herbevestig om billike toegang tot nuwe langwerkende MIV-voorkomingstegnologieë te bevorder.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bewerings oor bestuursmislukkings, finansiële wanbestuur en uitvoerende wangedrag verwerp en noem dit ongegrond. Volgens die diens is vertragings met die verkryging van ‘n nuwe hoëprestasie-rekenaarstelsel te wyte aan die streng nakoming van verkrygingswette. Volgens woordvoerder, Oupa Segalwe, is deeglike toesig, eerlikheidsoorsigte en gebeurlikheidsplanne ingestel, terwyl ‘n zero-toleransie benadering tot bedrog en korrupsie gehandhaaf word:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het die totale toelaatbare vangs vir die Suid-Afrikaanse perlemoenvissery vir die 2025/2026-seisoen op 12,01 ton vasgestel. Die drastiese vermindering volg terwyl perlemoenvoorrade in die meeste sones erg afgeneem het, met byna nul digthede langs ‘n groot deel van die kus. Minister Dion George sê daar is ‘n dringende behoefte om die plaag van perlemoenstropery te bestry, met onwettige vangste in 2023 wat 13,85-miljoen perlemoen oorskry het:
# Minstens 64 mense insluitend vier polisiebeamptes, is dood in Rio de Janeiro se dodelikste polisie-optrede teen die Rooi Kommando-bende in Brasilië. Sowat twee-duisend-500 swaar gewapende beamptes was deel van Operation Containment, waarin meer as 80 mense gearresteer is. Rio de Janeiro-staat se goewerneur, Cláudio Castro, sê polisie het beslag gelê op ‘n groot hoeveelheid dwelms en tientalle vuurwapens. Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor is ontsteld oor die polisie-operasie en sê dit moet vinnig en deeglik ondersoek word.
# Tennis: Cameron Norrie van Brittanje het Carlos Alcaraz laat struikel om die laaste 16 van die Paryse Meesters te haal. Norrie wat ‘n stel agter was, het die Spanjaard geklop wat sy eerste oorwinning teen die wêreld-nommer-een is. Alcaraz het vir die eerste keer deelgeneem na hy sy agtste titel van die seisoen in September in Tokio behaal het. Daar was ook seges vir die Amerikaner Taylor Fritz, Daniil Medvedev van Rusland en Felix Auger-Aliassime van Kanada. Alcaraz sê hy was teleurgesteld met sy spelpeil in die wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-733-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-958-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….