Nuus 09:00
BULLETIN 10 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof onderskryf die Mededingingsowerhede se magte om internasionale kartelle te vervolg
# ActionSA ontbloot ‘n Weermag-voertuigbegraafplaas van 27-miljoen-rand
# En krieket: Engeland beklink hul eerste T20-reeksoorwinning oor Indië
# Die Mededingingskommissie sê hy neem kennis van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die buitelandsevaluta-kartel, wat betekenisvolle regs- en prosedurele gevolge inhou vir die vervolging van internasionale kartels. Die hoogste hof het verlede week beslis dat mededingingsowerhede bewerings oor die vasstelling van buitelandse valuta teen ses internasionale banke mag ondersoek. Die Mededingingskommissie se woordvoerder, Siyabulela Makunga, sê die uitspraak gee groter duidelikheid oor Suid-Afrikaanse mededingingswette se reikwydte buite die landsgrense:
# ActionSA sê terwyl Suid-Afrika toenemend probleme ervaar wat grens-sekuriteit, misdaad en reaksie op rampe betref, laat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag toe dat noodsaaklike militêre bates tot wrakke verroes. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het op ‘n vraag in die Parlement onthul dat daar ʼn voertuig-begraafplaas by Wallmannsthal in Pretoria is waar militêre voertuie gelaat word om te vergaan. Lerato Ngobeni van ActionSA sê dis nog ʼn bewys dat die SANW nie meer in staat is om sy grondwetlike mandaat na te kom nie:
# Die DA het die skorsing van Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, as onwettig veroordeel. Die stadsraad het gister tydens ‘n geslote vergadering vir sy skorsing gestem nadat die EFF ‘n klag teen hom gelê het waarin hy van verskeie klagte van wangedrag beskuldig is. Mettler het in geskrewe vertoë beskuldigings teen hom as vals ontken. Die koukusleier van die DA in Tshwane, Cilliers Brink, het die ANC-geleide koalisie en sy vennote van peuter met stemme beskuldig:
# Twaalf mense is dood in ‘n veldbrand in Los Gallerdos in die suid-oostelike provinsie Almería in Spanje. ‘n Langdurige hittegolf veroorsaak veldbrande in die suide van Europa. Ses mense is beseer, insluitend ‘n vrou wat brandwonde opgedoen het. Die Spaanse minister van die Presidensie, Gesondheid en Noodgevalle, Antonio Sanz, sê die brand is die vernietigendste in die streek tot op datum en hy beskryf die omstandighede as ‘n weergalose tragedie. Meer as 393-duisend hektaar het verlede jaar in Spanje se ergste veldbrand in die onlangse geskiedenis, afgebrand.
# Krieket: Engeland het Indië in die vierde T20 in Bristol met nege paaltjies verpletter om hul eerste reeksoorwinning in hierdie formaat teen Indië te verseël. Die besoekers is tot 158 vir sewe beperk met kaptein Shreyas Iyer wat ʼn onoorwonne 80 van 49 balle bygedra het. Daarna het kaptein Harry Brook en Phil Salt ʼn ononderbroke vennootskap van 144 om die tweede paaltjie behaal en Engeland het die teiken bereik met 37 balle oor. Die gashere het ʼn onoorwinbare voorsprong in aanloop tot môre se vyfde en laaste wedstryd in Southampton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-40-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….